Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 22:18-31 Die Boodskap (DB)

18. “’n Vrou wat haar met toordery ophou, mag nie bly leef nie.

19. Enigeen wat seks met ’n dier het, moet doodgemaak word.

20. Elkeen wat offers bring vir enige ander god as net die Here, moet doodgemaak word.

21. “Jy moenie iemand wat van ’n ander land af kom, sleg behandel nie. Jy was mos self ’n mens uit ’n ander land toe julle in Egipte was.

22. Jy moenie weduwees en weeskinders uitbuit omdat hulle nie ’n man het wat vir hulle sorg nie.

23-24. As jy dit doen en hulle kom kla by My en vra My om hulle te help, sal Ek hulle kant kies. Ek sal met woede teen jou losbrand en Ek sal jou in die oorlog laat doodgaan. Jou eie vrou sal dan ’n weduwee word en jou eie seuns ook weeskinders sonder iemand om vir hulle te sorg.

25. “Wanneer jy geld vir arm mense in die volk leen, moet jy nie ook nog vir hulle rente daarop vra nie.

26. As iemand in die loop van die dag sy mantel vir jou as ’n pand gegee het vir iets wat hy by jou geleen het, moet jy dit vir hom teruggee as die son ondergaan.

27. Dit is al wat hy het om homself in die nag mee toe te maak. Onder wat anders kan hy slaap? As jy dit nie doen nie en hy kom kla by My, sal Ek na hom luister, want Ek gee om vir sulke mense.

28. “Moenie God se Naam sleg maak nie. Moenie die leiers van jou volk vloek nie.

29. “Bring alles van jou graan- en druiweoes in berekening wanneer jy my deel bereken. Onthou dat jou oudste seun aan My behoort.

30. Die eerste bees of skaap wat gebore word, kan vir die eerste sewe dae nog by sy ma bly. Op die agtste dag moet jy dit aan My afstaan.

31. Julle moet uitsonderlike mense wees wat met alles wat julle het, vir My lewe. Julle mag nie vleis eet van diere wat deur roofdiere in die veld verskeur is nie. Julle moet dit vir die honde gee om te vreet.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 22