Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 8:6-17 Die Boodskap (DB)

6. So wou Hy jou leer om Hom lief te hê en volgens sy wil te leef.”

7. “Die Here jou God gaan jou in die goeie land inbring, ’n land van baie water, fonteine en riviere wat oral ontspring;

8. ’n land van koring en gars, van wingerde, vyebome en granate; ’n land van olyfbome en baie heuning;

9. ’n land waar daar nooit ’n skaarste aan brood sal wees nie en waarin jy niks sal kortkom nie; ’n land waar die klippe yster is en ’n mens koper sommer uit die berg kap;

10. ’n land waarin jy baie sal eet en versadig sal word. Wanneer dit gebeur, sal jy die Here jou God loof omdat Hy vir jou goed was en jou in ’n wonderlike land gebring het.”

11. “Sorg dat jy nooit die Here vergeet nie. En moet nooit ophou om volgens sy wil te leef nie. Luister goed na alles wat ek jou vandag vertel.

12. Wanneer jy eendag genoeg het om van te leef en in die mooi huise woon wat jy gebou het,

13. en wanneer jou skape en beeste vermeerder het en jou goud, silwer en besittings baie meer geword het,

14. moet jy nie te selfvoldaan begin word en die Here wat jou uit die swaarkry van Egipte weggevat het, vergeet nie.

15. Onthou, die Here het jou deur ’n groot en verskriklike woestyn gelei waar daar slange, wrede diere en skerpioene was. En in die droë streke was daar geen water nie, maar die Here het vir jou water uit ’n klipharde rots laat kom.

16. Onthou, die Here het vir jou manna in die woestyn gegee. Dit was iets wat jy en jou voorouers nie vantevore geken het nie. In die woestyn het Hy jou swaar laat kry, maar Hy was ook baie goed vir jou.

17. Daarom moet jy nooit dink jy het met jou eie krag ryk en sterk geword nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 8