Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 6:15-25 Die Boodskap (DB)

15. Die Here jou God duld geen ander gode nie en as jy hulle aanbid, sal die Here se woede jou soos ’n vuur vernietig.

16. “Julle moenie die Here se geduld beproef soos julle dit by Massa gedoen het nie.

17. Sorg eerder dat julle die Here se wil ken en dit gehoorsaam.

18. Doen wat goed en reg is in die oë van die Here, dan sal dit met jou goed gaan. Jy sal die land wat die Here alreeds aan jou voorvaders beloof het, binnegaan en gelukkig daar woon.

19. En jy sal ook al jou vyande wegdryf soos die Here jou beloof het.”

20. “Wanneer jou kinders jou eendag vra: ‘Hoekom het die Here ons God julle al hierdie wette gegee en hoekom moet ons dit gehoorsaam?’

21. moet julle sê: ‘Ons was in Egipte waar ons baie swaargekry het, maar die Here het ons met sy groot krag daar kom wegvat.

22. Met ons eie oë het ons die verskriklike dinge gesien wat die Here met die farao en sy weermag gedoen het.

23. Hy het ons uit Egipte gaan haal en ons tot binne-in die land gebring wat Hy al aan Abraham, Isak en Jakob beloof het.

24. Toe het die Here ons beveel om Hom lief te hê en te doen wat Hy vra. As ons dit doen, sal dit met ons goed gaan. Dan sal ons bly lewe.

25. En as ons alles nakom wat die Here ons beveel het, sal Hy ons ook liefhê.’”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 6