Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:1-15 Die Boodskap (DB)

1. “Jy moet baie goed luister na wat die Here jou God vir jou sê om te doen. As jy alles doen presies nes Hy vir jou sê en jy gehoorsaam is om alles te doen wat Hy jou beveel, sal dit goed gaan met jou. Die Here sal jou belangriker maak as enige ander nasie op aarde.

2. Jy sal baie voorspoedig wees in alles wat jy aanpak. Jy sal ryk word omdat die Here jou ryk maak. Hy sal baie dinge vir jou doen:

3. Hy sal jou voorspoedig maak as jy in die stad bly of op die platteland boer.

4. “Hy sal vir jou baie kinders gee en jou landerye sal elke jaar groot oeste hê.

5. “Jou mandjies waarmee jy die oes insamel, sal elke jaar oorloop van al die vrugte wat die Here vir jou sal gee. Hy sal sorg dat jy meer brood sal hê as wat jy kan eet.

6. “Die Here sal jou voorspoedig maak waar jy ook al gaan. Dit sal heeltyd net goed gaan met jou.

7. “Die Here sal jou vyande doodmaak as hulle besluit om jou aan te val. Hulle sal uit een rigting kom om jou aan te val, maar hulle sal in sewe rigtings weghardloop!

8. “Die Here sal jou voorspoedig maak in alles wat jy doen. Jy sal nie genoeg skure hê om alles op te gaar wat Hy vir jou gaan gee nie. Die Here jou God sal jou voorspoedig maak in die land wat Hy vir jou gee.

9. “As jy alles doen wat die Here jou God jou beveel, sal Hy Israel as sy eie volk eenkant sit. Julle sal net aan Hom behoort en julle sal Hom dien. Hy het mos belowe dat Hy dit sal doen.

10. Al die ander nasies sal erken dat julle die Here se volk is. En hulle sal baie bang wees vir julle.

11. “Die Here sal vir jou baie van al die goeie dinge gee in die land wat Hy vir julle oupagrootjies belowe het om vir julle te gee. Julle sal baie kinders hê en baie skape en beeste, en julle sal elke jaar rekordoeste hê.

12. “Die Here sal vir julle reën gee elke keer as julle dit nodig het. Waar Hy bly, is daar baie skatte. En Hy sal sy skatte vir julle gee. Hy sal julle voorspoedig maak in alles wat julle doen.“Julle sal vir baie nasies leen, maar julle sal nie nodig hê om by enigiemand enigiets te leen nie.

13. “As julle baie mooi luister wat die Here julle God vir julle beveel en julle doen presies wat Hy sê, sal Hy julle die belangrikste op aarde maak. Julle sal oor ander nasies heers. Julle sal altyd die sterkste wees.

14. Wees baie versigtig dat julle niks nalaat wat die Here wil hê julle moet doen nie. Wees veral versigtig om nie voor ander gode neer te buig en hulle te aanbid nie.”

15. “As jy weier om te doen wat die Here jou God jou beveel, sal teëspoed jou tref. Probleme sal jou oorweldig.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28