Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 17:8-20 Die Boodskap (DB)

8. “Sê nou maar iemand word voor jou hof gedaag, en jy kan nie besluit hoe sy saak hanteer moet word nie. Hierdie persoon het dalk iemand doodgemaak of iemand aangerand of iets anders gedoen wat baie ernstig is. Julle kan nie saamstem hoe om die saak te hanteer of watter straf die skuldige persoon opgelê moet word nie. Hoe hanteer jy dit dan? Wel, gaan na die plek toe wat die Here jou God sal kies om sy huis te laat bou.

9. Gaan dan na die kinders van Levi wat by die huis van die Here sal werk. Daar onder hulle is ook mense wat ernstige hofsake kan hanteer. So ’n ernstige saak moet by hulle uitkom. Hulle sal besluit of die persoon skuldig is, en wat sy straf moet wees as hy skuldig is.

10. Jy moet dan presies doen wat hulle besluit met die skuldige persoon gedoen moet word. Hulle werk nie verniet in die huis wat die Here sal kies om in te woon nie. Doen alles wat hulle vir jou sê om te doen. Lewe soos hulle sê jy moet.

11. Hulle sal besluit wat die wet sê met die persoon gedoen moet word wat skuldig is aan die een of ander misdaad. Jy mag niks verander aan die uitspraak wat hierdie hof gee nie.

12. Iemand steur hom dalk nie aan die mense wat in die huis van die Here werk nie. Of hy waag dit om te verander aan die opdrag wat die regter gee oor wat met die skuldige persoon gedoen moet word. Of hy steur hom nie aan wat die persoon sê wat in die huis van die Here werk nie. So ’n persoon moet op die plek doodgemaak word.

13. Só sal almal daarvan hoor en te bang wees om ook so te maak.”

14. “Een van die dae trek jy in die land in wat die Here jou God vir jou gaan gee. Jy moet hierdie land vir jouself vat en daarin gaan bly. Dan kan jy dalk op ’n dag begin dink: ons behoort ook ’n koning te hê, want al die ander nasies wat rondom ons bly, het konings.

15. “As dit gebeur dat jy ’n koning wil aanstel, moet jy baie seker maak jy kies die man wat die Here jou God vir hierdie werk gekies het. Jy moet iemand kies wat ook ’n Israeliet is. Jy mag nie iemand van ’n ander nasie as koning oor jou aanstel nie.

16. Hierdie koning mag nie vir hom ’n groot klomp perde bymekaarmaak nie. Hy mag ook nooit toelaat dat die mense van sy volk na Egipte toe gaan om daar perde te gaan koop nie. Die Here het mos baie duidelik vir jou gesê dat jy nooit weer na Egipte mag teruggaan nie.

17. Jou koning mag ook nie vir homself ’n klomp vroue vat en met hulle trou nie. Hulle sal hom dalk beïnvloed sodat hy nie meer die Here alleen dien nie. Hy moet ook nie baie geld en besittings vir homself bymekaarmaak nie.

18. “As hy as koning op die troon sit, moet hy alles neerskryf wat die Here jou God jou beveel het om te doen. Hy moet hierdie boek afskryf van die boek wat by die mense is wat in die huis van die Here werk, die kinders van Levi. En hierdie mense moet toesien dat hy alles neerskryf wat die Here jou God jou beveel het.

19. Hy moet die boek met hierdie opdragte elke dag by hom hou. Hy moet elke dag daaruit lees, solank hy leef. So sal hy leer om die Here te respekteer, as hy alles doen wat Ek jou beveel het om te doen.

20. As hy elke dag uit hierdie boek lees en agterkom wat Ek van hom verwag, sal hy nie trots word en begin maak of hy beter is as die ander mense wat saam met hom in die land bly nie. Dit sal ook keer dat hy wegdraai van die pad wat Ek gesê het hy moet loop. Dan mag hy dalk op ander paaie begin loop. As hy alles doen wat Ek hom beveel, sal hierdie koning en sy kinders en kleinkinders vir baie lank as konings oor die volk Israel regeer.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 17