Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 16:6-19 Die Boodskap (DB)

6. maar net by die plek wat die Here nog sal kies. Slag dit teen sononder, want dis teen sononder dat die uittog uit Egipte begin het.

7. Jy moet die vleis gaarmaak en op die plek eet wat die Here nog in die Beloofde Land sal kies. Teen die volgende oggend se kant kan julle maar weer huis toe gaan.

8. Ses dae lank moet jy dan ongesuurde brood eet en op die sewende moet jy vrolik en feestelik saamkom om die Here jou God te eer. Op hierdie dag mag niemand werk nie.”

9. “Jy moet die weke mooi bereken. Van die oomblik af dat jy jou koring begin sny, moet jy begin tel. Tel tot by sewe weke.

10. Dan moet jy die fees van die weke tot eer van die Here jou God begin vier. Bring ’n offer en kom bymekaar by die plek wat die Here nog sal kies.

11. Daar moet julle vrolik en bly wees in die teenwoordigheid van die Here. Jy en jou kinders, jou werkers, die Leviete van jou dorp en die mense van ander volke wat by jou bly. Ook die weeskind en weduwee moet saamkom en vrolik wees.

12. In dié tyd moet jy daaraan dink dat jy baie in Egipte gely het. Daarom moet jy die fees van die weke getrou vier.”

13. “As jy klaar by die dorsvloer gewerk en by die parskuip die druiwe getrap het, moet jy sewe dae lank die huttefees vier.

14. Jy moet dit saam met jou kinders, jou werkers, die Leviete, die vreemdelinge uit ander volke, die weeskind en die weduwee geniet.

15. Sewe dae lank moet jy by die plek wat die Here nog sal kies, bymekaarkom en tot die Here se eer feesvier. Wees vrolik, want die Here het jou arbeid en jou oes geseën.

16. “Drie maal per jaar moet alle mans na die plek toe gaan wat die Here nog sal kies. Hulle moet vir die paasfees, die fees van die weke en die huttefees daar byeenkom en die nabyheid van die Here ervaar.

17. Elkeen moet ook iets saambring. Ooreenkomstig dit wat die Here vir jou gegee het, moet jy ook gee.”

18. “In elke dorp wat die Here jou gee, moet jy amptenare aanstel. Hulle moet die mense goed regeer en in die hof regverdige uitsprake maak.

19. Hulle moet nooit partydig of onredelik wees nie. Hulle moet ook nooit omkoopgeskenke aanvaar nie. Sulke geskenke maak selfs die slimstes en die eerlikstes blind vir die waarheid.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 16