Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 7:10-16 Die Boodskap (DB)

10. Die vuur het soos ’n rivier uit die troon uit gestroom. Miljoene engele het Hom bedien en daar het miljoene der miljoene mense voor sy troon gestaan. Toe het die hofsitting begin en die boeke is oopgemaak waarin al die aanklagte opgeteken is.

11. “Die klein horinkie was nog steeds besig om allerhande grootpraterige goed te sê. En toe ek weer kyk, sien ek hoe die vierde dier doodgemaak word en sy liggaam in die vuur verbrand word.

12. Ook die ander drie diere se krag is van hulle af weggevat, maar hulle lewe is vir nog ’n klein rukkie gespaar.

13. “My visioen het voortgegaan. Daar in die wolke het ek iemand sien aankom. Hy het soos ’n mens gelyk. Hy het na die Een toe gegaan wat vir altyd lewe. Hierdie mens is geroep om by sy troon te gaan staan.

14. Aan hierdie mens is al die mag en die eer en die koningskap gegee, sodat al die volke, nasies en tale van die wêreld hom sou dien. Daar sal nooit ’n einde aan sy heerskappy wees nie. Sy koninkryk sal nooit vernietig word nie.”

15. “Hierdie visioen het my verskriklik ontstel; dit het my baie bang gemaak.

16. Ek het toe na een van dié wat langs God se troon gestaan het, gegaan en vir hom gevra wat dit alles beteken. Hy het dit toe so vir my verduidelik:

Lees volledige hoofstuk Daniël 7