Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 5:23-30 Die Boodskap (DB)

23. Trouens, u het die Here van die hemel uitgedaag deur u sondes. U het die goue en silwerbekers uit sy tempel as wynbekers gebruik vir u en u hooggeplaastes en u vroue en byvroue. Verder het u nog heildronke daaruit gedrink op al u afgode van silwer, goud, brons, yster, hout en klip, gode wat nie kan sien, hoor of selfs vir hulleself kan dink nie. Maar aan die God wat u laat lewe en wat oor u lewe en u toekoms beskik, het u geen eer gegee nie!

24. Daarom het Hy die hand gestuur om hierdie woorde te kom skryf.

25. Daar staan geskryf: Getel, getel, geweeg, verdeel.

26. Dit is wat dit beteken: Getel beteken dat God u regeringstyd se dae getel het en nou ’n einde daaraan gaan maak.

27. Geweeg sê dat u op God se skaal geweeg is en te lig bevind is omdat u nie doen wat Hy sê nie.

28. Verdeel beteken dat u koninkryk tussen die Mediërs en die Perse verdeel gaan word.”

29. Op Belsasar se bevel het hulle vir Daniël ’n koninklike kleed omgehang en ook ’n goue ketting om sy nek gesit. Hy het ook laat aankondig dat Daniël nou derde in bevel in die koninkryk was.

30. Daardie selfde nag nog is Belsasar, die koning van die Babiloniërs, vermoor.

Lees volledige hoofstuk Daniël 5