Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 28:20-27 Die Boodskap (DB)

20. Toe Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, wel daar opdaag, het hy koning Agas glad nie gehelp nie.

21. Agas het al die waardevolle voorwerpe uit die Here se tempel, die paleis en sy amptenare se huise gevat en dit vir die koning van Assirië gestuur. Maar dit het niks gehelp nie.

22. Juis toe hy baie swaargekry het, het koning Agas nóg ongehoorsamer aan die Here geword.

23. Hy het offers gebring vir die gode van Damaskus. Hy het so daaroor gedink: “Dié gode het die Arameërs gehelp toe hulle teen my geveg het. Miskien sal hulle my ook help as ek hulle nou vereer.” Maar dit het nie so gebeur nie. Hulle het net tot sy ondergang gelei.

24. Die koning het die gereedskap wat in die Here se tempel gebruik is, gevat en dit in stukkies gebreek. Toe het hy die tempel se deure toegesluit en sy eie altare op elke hoek in Jerusalem gebou.

25. Hy het in elke dorp in Juda heiligdomme gebou om vir vreemde gode offers te bring. Op dié manier het hy die Here verskriklik kwaad gemaak.

26. Die res van Agas se geskiedenis en alles wat hy gedoen het, is in Die Geskiedenis van die Konings van Juda en Israel opgeskryf.

27. Na sy dood het hulle hom in Jerusalem begrawe, maar nie in die koninklike begraafplaas nie. Sy seun Hiskia het hom opgevolg.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 28