Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 20:9-12 Die Boodskap (DB)

9. Hulle het gesê: ‘As daar eendag iets vreesliks met ons gebeur, soos ’n oorlog, ’n vloed, siekte of hongersnood, sal ons hier by die tempel bymekaarkom. Dit is waar U woon. Ons sal hier kom pleit dat U ons moet help en U sal ons hoor en ons red!’

10. Nou het die mense van Ammon, Moab en die Seïrberge saamgetrek om ons aan te val. Destyds, op pad van Egipte af, het U die Israeliete verbied om hulle aan te val. Trouens, die Israeliete het om hulle getrek en hulle nie aangeval en uitgeroei nie.

11. Kyk hoe beloon hulle ons nou daarvoor! Hulle is nou hier om ons uit die land te gooi wat U vir ons as ’n geskenk gegee het.

12. God, sal U hulle stop, asseblief? Ons kan niks teen so ’n oormag doen nie. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons glo dat U ons sal help.”

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 20