Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 20:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Na ’n ruk het ’n klomp Moabiete, Ammoniete en Meüniete teen Josafat oorlog kom maak.

2. Die volgende boodskap het Josafat bereik: “Daar kom ’n groot leër aan om teen u te veg. Hulle kom van Edom se kant af, anderkant die Dooie See, en het reeds by Gaseson-Tamar (oftewel En-Gedi) aangekom.”

3. Toe hy dit hoor, het Josafat geskrik en besluit om die Here te raadpleeg. Hy het beveel dat al die mense van Juda vir ’n dag lank niks mag eet nie.

4. Hulle het toe uit al die stede en dorpe van Juda bymekaargekom om die Here te vra om hulle te help.

5. Josafat het tussen al die mense van Juda en Jerusalem voor die tempel se nuwe voorhof gaan staan.

6. Hy het gebid: “Here, God van ons voorouers, U is die enigste God in die hemel en die Heerser oor alle koninkryke op aarde. U is sterk en magtig. Niemand kan U wen nie!

7. God, het U nie die volke wat in die land gewoon het, weggejaag toe u volk hier aangekom het nie? Het U nie toe die land vir Abraham se nageslag gegee om vir altyd hier te woon nie?

8. U volk het hier kom bly en hierdie tempel vir U gebou.

9. Hulle het gesê: ‘As daar eendag iets vreesliks met ons gebeur, soos ’n oorlog, ’n vloed, siekte of hongersnood, sal ons hier by die tempel bymekaarkom. Dit is waar U woon. Ons sal hier kom pleit dat U ons moet help en U sal ons hoor en ons red!’

10. Nou het die mense van Ammon, Moab en die Seïrberge saamgetrek om ons aan te val. Destyds, op pad van Egipte af, het U die Israeliete verbied om hulle aan te val. Trouens, die Israeliete het om hulle getrek en hulle nie aangeval en uitgeroei nie.

11. Kyk hoe beloon hulle ons nou daarvoor! Hulle is nou hier om ons uit die land te gooi wat U vir ons as ’n geskenk gegee het.

12. God, sal U hulle stop, asseblief? Ons kan niks teen so ’n oormag doen nie. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons glo dat U ons sal help.”

13. Die hele Juda, mans, vroue en kinders, het almal saam voor die Here gestaan en pleit om hulp.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 20