Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 1:4-12 Die Boodskap (DB)

4. Die ark met die ooreenkoms tussen God en sy volk was egter nie daar nie. Dawid het die ark uit Kirjat-Jearim na Jerusalem laat bring en dit in ’n tent neergesit wat hy spesiaal daarvoor opgeslaan het.

5. Die bronsaltaar wat Besaleël, Uri se seun en Gur se kleinseun, gemaak het, was wel in Gibeon voor die tent van die Here. Salomo en die leiers het dit besoek om die Here te raadpleeg.

6. Salomo het die altaar voor die tent gebruik om offers te bring. Hy het 1 000 brandoffers gebring.

7. Dié nag het die Here aan Salomo verskyn en vir hom gevra: “Wat wil jy graag hê? Ek sal dit vir jou gee.”

8. Salomo het geantwoord: “U was baie goed vir Dawid, my pa. Nou het U my in sy plek koning gemaak.

9. U belofte aan hom is vervul. Ek is nou koning oor ’n volk wat so baie mense het soos die stof op die aarde.

10. Gee my tog wysheid en kennis om hulle goed te regeer, want hoe anders kan ’n mens hierdie groot volk van U regeer?”

11. God het Salomo geantwoord: “Aangesien jy jou volk wil help en nie gevra het vir rykdom of eer, of dat jou vyande moet sterf, of selfs vir ’n lang lewe nie, maar vir wysheid en kennis om goed te regeer,

12. sal jy beslis kry wat jy gevra het. Maar Ek sal jou meer as wysheid en kennis gee: Ek sal jou ook meer geld en skatte en eer gee as wat enige koning vóór jou nog gehad het, of enigeen ná jou ooit sal hê.”

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 1