Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 22:3-17 Die Boodskap (DB)

3. In die agtiende jaar wat Josia koning was, het hy die staatsekretaris Safan na die tempel toe gestuur. Hy het vir hom gesê:

4. “Gaan sê vir die hoëpriester Gilkija hy moet al die geld tel wat die mense tempel toe gebring het en wat die deurwagte bymekaargemaak het.

5. Die geld moet na die kontrakteurs gaan wat moet sorg dat die tempelgebou herstel word. Hulle moet die geld gebruik om die vakmanne te betaal wat die herstelwerk doen.

6. Hulle sal skrynwerkers, bouers en messelaars moet huur en hout en gekapte bouklippe moet koop om die tempel te herstel.

7. Dis nie nodig om boek te hou van die geld wat vir die kontrakteurs gegee word nie, want hulle is betroubare mense.”

8. Toe Safan daar by hom kom, sê die hoëpriester Gilkija vir hom: “Ek het die wetboek in die Here se tempel gekry!” Gilkija het toe die boekrol vir Safan gegee en hy het dit gelees.

9. Daarna is Safan na die koning toe terug om verslag te doen: “Ons het die geld vir die kontrakteurs gegee om met die herstelwerk aan die tempel te begin.

10. Maar daar is nog iets, U Majesteit. Die hoëpriester het hierdie boekrol vir my gegee.” Safan het dit toe vir Josia voorgelees.

11. Toe Josia hoor wat in die wetboek staan, het hy van ontsteltenis sy klere geskeur.

12. Hy het dadelik ’n afvaardiging saamgestel wat uit Gilkija die hoëpriester en vier senior amptenare bestaan het. Hy het vir hulle gesê:

13. “Gaan praat namens my en die hele volk met die Here oor wat in hierdie boek staan. Ons voorouers het hulle nie aan die boek se inhoud gesteur nie. Die Here moet woedend wees vir ons omdat ons nie gedoen het wat in die boek staan nie.”

14. Hulle is toe na die profetes Gulda toe wat in die nuwe deel van Jerusalem gewoon het. Haar man was Sallum, wat verantwoordelik was vir die klerestoor by die tempel. Gilkija-hulle het haar vertel hoekom hulle daar was.

15. Sy het hulle geantwoord: “Hier is ’n boodskap van die Here vir die man wat julle gestuur het.

16. Gaan sê vir hom die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek gaan die stad en sy mense vernietig, net soos dit in die boek staan wat julle gelees het.

17. Hulle het opgehou om My te vereer en ander goed begin dien wat glad nie gode is nie. Ek is woedend daaroor. My woede is soos ’n vuur wat nie meer geblus kan word nie.’”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 22