Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 20:6-17 Die Boodskap (DB)

6. Ek sal jou nog vyftien jaar laat lewe en vir jou én vir Jerusalem beskerm teen die mag van die Assiriese koning. Ek doen dit om my eer te beskerm en ter wille van Dawid, wat vir My iemand baie spesiaal is.’”

7. Jesaja vra toe: “Bring vir my saamgeperste droë vye.” Hulle het dit op die sweer gesit en Hiskia het gesond geword.

8. Intussen het Hiskia vir Jesaja gevra: “Is daar ’n teken om te bevestig dat ek gesond sal word en weer tempel toe sal kan gaan?”

9. Jesaja antwoord hom toe: “Ja, die Here het ’n teken gegee. Jy kan kies of die skaduwee op die trap tien trappe vorentoe of terug moet gaan.”

10. Hiskia sê toe: “Die skaduwee beweeg die hele tyd vorentoe. Laat dit as ’n teken van die Here se belofte tien trappe terugbeweeg.”

11. Jesaja het toe ernstig gebid en die Here het die skaduwee op die trappe wat Agas gebou het, tien trappe terug laat beweeg.

12. Kort nadat Hiskia so siek was, het Merodag-Baladan, die koning van Babel, briewe en ’n geskenk na hom toe gestuur. Hy het gehoor van Hiskia se siekte en herstel.

13. Hiskia het die afgevaardigdes hartlik ontvang en hulle in Jerusalem rondgewys. Hy het sy skatkamers vir hulle gewys, met al die goud en silwer, speserye en duur geurige olies daarin. Hy het die wapenstore en ander stoorkamers vir hulle gewys. Daar was eintlik niks wat hy nie vir hulle gewys het nie.

14. Jesaja die profeet het toe na Hiskia toe gegaan en gevra wie die besoekers was en waarvandaan hulle gekom het. Hiskia het geantwoord: “Hulle kom uit die ver land, Babel.”

15. “Nou wat het hulle alles in jou paleis gesien?” het Jesaja gevra.“Alles,” het Hiskia geantwoord, “daar is niks wat ek vir hulle weggesteek het nie.”

16. Daarop sê Jesaja vir Hiskia: “Hier is ’n boodskap vir jou van die Here af:

17. ‘Eendag sal dit gebeur dat al die skatte in jou paleis en alles wat die Judese konings voor jou versamel het, na Babel toe weggedra word. Niks sal hier oorbly nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 20