Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 7:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Die mense van Kirjat-Jearim het toe die ark gaan haal en hom na Abinadab, wat op ’n bult gebly het, gevat. Hulle het vir sy seun Eleasar gesê om niks anders te doen nie as om net die ark van die Here op te pas.

2. Die ark het ’n lang tyd, seker twintig jaar, in Kirjat-Jearim gebly. Al die Israeliete het gedurig by die Here gaan kla.

3. Samuel sê toe vir hulle: “As julle regtig ernstig is om na die Here toe terug te kom, moet julle ontslae raak van die vreemde gode en godinne wat julle het. Wees getrou aan die Here en dien Hom alleen, dan sal Hy julle vrymaak uit die mag van die Filistyne.”

4. Die Israeliete het toe ontslae geraak van die Baälgode en die Astartegodinne en net die Here gedien.

5. Samuel sê toe: “Laat al die Israeliete by Mispa bymekaarkom, dan sal ek vir julle by die Here pleit.”

6. Hulle het toe by Mispa bymekaargekom. Hulle het water geskep en dit by die altaar uitgegooi. Hulle het daardie dag niks geëet nie en het bely: “Ons het teen die Here gesondig!” Samuel het daar in Mispa vir die Israeliete gesê wat die wil van die Here is.

7. Toe die Filistyne hoor dat die Israeliete in Mispa saamgekom het, het die regeerders van die stadstate besluit om teen die Israeliete te gaan oorlog maak. Die Israeliete het dit gehoor en was bang vir die Filistyne.

8. Hulle het vir Samuel gesê: “Moet asseblief nie ophou om vir ons by die Here te pleit dat Hy ons teen die Filistyne help nie.”

9. Samuel het ’n lam wat nog aan sy ma drink, gevat en die hele lam vir die Here op die altaar verbrand. Hy het die Here se hulp vir die Israeliete gevra, en die Here het sy gebed verhoor.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 7