Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 30:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Toe Dawid en sy manne twee dae later by Siklag aankom, is die dorp afgebrand. Die Amalekiete was op ’n strooptog in die Negev, en Siklag het ook in die slag gebly.

2. Die Amalekiete het niemand doodgemaak nie, maar hulle het al die vroue en kinders gevang en met hulle saamgevat.

3. Toe Dawid en sy manne in die afgebrande dorp kom en besef dat hulle vroue en seuns en dogters ontvoer is,

4. het hulle in trane uitgebars en hardop gehuil. Hulle was ontroosbaar.

5. Dawid se twee vroue, Aginoam uit Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal uit Karmel, is natuurlik ook ontvoer.

6. Dawid was lelik in die nood: die manne was só verbitter oor hulle kinders dat hulle gedreig het om hom met klippe dood te gooi. Maar hy het krag gekry by die Here sy God.

7. Hy het vir priester Abjatar, Agimelek se seun, gesê: “Bring vir my die priestersak.”Abjatar het die priestersak vir Dawid gebring,

8. en toe vra hy vir die Here: “Moet ek agter hierdie klomp rowers aangaan en sal ek hulle kan inhaal?”Die antwoord was: “Ja, sit hulle agterna. Jy sal hulle vir seker inhaal en jou mense red.”

9. Dawid en sy 600 man is toe agter die rowers aan. Toe hulle by die Besorspruit kom, het party manne halt geroep.

10. Twee honderd van die manne was eenvoudig te swak om deur die loop te gaan. Dawid is toe met 400 man verder.

11. Die manne het ’n Egiptenaar in die veld gekry en hom na Dawid toe gebring. Hulle het vir hom brood en water gegee. Toe hy dit klaar geëet en gedrink het,

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 30