Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 15:27-35 Die Boodskap (DB)

27. Toe Samuel omdraai om weg te loop, gryp Saul hom aan sy mantel. Toe skeur die mantel.

28. Samuel sê: “Die Here het nou net jou koningskap oor Israel van jou afgeskeur en dit vir iemand anders gegee wat beter is as jy.

29. Die God van Israel, wat altyd daar is, sal nie lieg nie en Hy gaan ook nie sy plan verander nie, want Hy is nie ’n mens nie.”

30. “Ek het gesondig,” sê Saul toe weer. “Moet my asseblief nie voor die Israeliete en hulle leiers verneder nie: kom kniel saam met my voor die Here jou God.”

31. Samuel het saam met Saul gegaan en Saul het voor die Here gaan kniel.

32. Daarna sê Samuel: “Bring vir Agag, die koning van die Amalekiete, hier.”Agag het na hom toe gegaan. Hy was ewe vrolik en het gedink: “Ek hoef nie meer bang te wees hulle sal my doodmaak nie.”

33. Maar Samuel sê vir hom: “Jou swaard het ma’s en hulle kinders doodgemaak; net so gaan jou ma ook nou sonder ’n kind wees.” Toe het Samuel daar by die altaar in Gilgal Agag se kop afgekap.

34. Samuel het Rama toe gegaan en Saul het teruggegaan na sy huis in Gibea, die dorp waar hy gebore is.

35. Samuel het nooit weer vir Saul gesien solank hy geleef het nie. Samuel het oor Saul gehuil en die Here was jammer dat Hy Saul koning laat maak het oor Israel.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 15