Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:6-15 Die Boodskap (DB)

6. Jonatan sê toe vir sy wapendraer: “Kom ons gaan na die wagte van daardie klomp heidene. Dalk help die Here ons. Dit maak mos nie saak of ons baie of min mense is nie, die Here kán ons laat wen.”

7. “Maak soos jy goeddink,” antwoord die wapendraer, “ek volg jou.”

8. “Goed,” sê Jonatan, “kom ons loop só na daardie manne toe dat hulle ons sien.

9. As hulle vir ons sê: ‘Wag daar tot ons by julle is,’ bly ons staan waar ons is; dan klim ons nie op na hulle toe nie.

10. Maar as hulle sê: ‘Klim op hier na ons toe,’ dan klim ons op, want dan is dit vir ons die teken dat die Here hulle aan ons oorgegee het.”

11. Die twee loop toe openlik na die wagte toe. “Kyk daar,” sê die Filistyne, “die Hebreërs kruip uit hulle gate uit!”

12. “Kom op hier na ons toe,” skree hulle vir Jonatan en sy wapendraer,” dan wys ons julle ’n ding of twee!” “Volg my,” sê Jonatan vir sy wapendraer, “die Here het hulle aan die Israeliete oorgegee.”

13. Jonatan het hande-viervoet teen die kop uitgeklim met sy wapendraer kort agter hom. Hy het die Filistyne platgeslaan, en sy wapendraer het hulle agter hom doodgesteek.

14. Daar is omtrent twintig man dood in hierdie eerste aanval van Jonatan en sy wapendraer. Die lyke het sommer bymekaar gelê.

15. Paniek het onder die Filistyne in die kamp losgebreek. Dié wat in die veld was, die ander wagte wat uitgesit was en die manskappe wat die Israeliete moes beroof, het hulle ook lam geskrik. Toe daar nog ’n aardbewing ook kom, was hulle doodbenoud.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14