hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 22 Die Boodskap (DB)

1. Dawid het toe gesê: “Dit is die plek dié waar ons die huis van die Here God en die altaar vir Israel se offers gaan bou.”

Voorbereidings vir die bou van die tempel

2. Dawid het beveel dat die vreemdelinge in die land bymekaargemaak moes word. Hy het hulle die taak gegee om bouklippe vir die oprigting van die tempel van God te kap.

3. Hy het yster beskikbaar gestel vir spykers vir die poortdeure en vir klampe. Hy het ook meer brons bymekaargebring as wat die mense kon weeg

4. saam met hope sederstompe, want die mense van Sidon en Tirus het baie sederhout vir hom gebring.

5. Dawid het gesê: “My seun Salomo is nog jonk en onervare, maar die huis wat vir die Here gebou word, moet só ’n ongelooflik grootse bouwerk wees dat sy gelyke nie op die aarde bestaan nie. Mense in ander lande moet dit bewonder. Daarom sal ek nou al begin voorbereidings tref vir die bou daarvan.” Dawid het toe voor sy dood reeds meer as genoeg boumateriaal bymekaar begin maak.

6. Toe het hy sy seun Salomo geroep en hom opdrag gegee om ’n huis vir die Here, die God van Israel, te bou.

7. Dawid het vir Salomo gesê: “My seun, ek was vas van plan om ’n huis ter ere van die Naam van die Here, die God van Israel, te bou.

8. Maar die Here het vir my laat weet: ‘Jy het baie mense in jou groot veldslae doodgemaak. Omdat jy soveel bloed laat vloei het, is jy nie die een wat ’n tempel ter ere van my Naam moet bou nie.

9. Jy sal ’n seun hê wat ’n man van vrede sal wees. Ek sal hom rus gee van die vyandelikhede van sy bure en sy naam sal Salomo wees. Onder sy bewind sal Ek groot rus en vrede vir Israel gee.

10. Hy is die een wat ter ere van my Naam ’n tempel moet bou. Hy sal vir my ’n seun wees en Ek vir hom ’n pa. Ek sal sy koningskap vir altyd in Israel laat aanhou.’

11. “Dus, my seun, mag die Here by jou wees. Mag Hy jou suksesvol maak wanneer jy die tempel volgens sy opdragte vir Hom begin bou.

12. Mag Hy jou wysheid en begrip gee, sodat jy die wet van die Here, die God van Israel, kan uitvoer, terwyl jy oor Israel regeer,

13. want as jy die wette en reëls wat die Here deur Moses vir Israel gegee het, presies uitvoer, sal jy suksesvol wees. Wees sterk en dapper, moenie bang word of moed verloor nie!

14. “Ek het met groot moeite materiaal vir die bou van die tempel bymekaar begin maak. Daar is al meer as 3 400 ton goud en oor die 34 000 ton silwer en soveel brons en yster dat ’n mens dit nie kan weeg nie. Ek het ook hout en bouklippe bymekaargemaak, wat jy kan aanvul as dit nodig is.

15. Daar is genoeg vakmanne om die werk te doen: spesialisklipkappers, -skrynwerkers en -steenwerkers, verskeie kunstenaars om te gebruik

16. vir die baie goud, silwer, brons en yster wat bewerk moet word. Spring dus aan die werk! Mag die Here by jou wees.”

17. Dawid het vir al die leiers in Israel opdrag gegee om vir Salomo te help.

18. “Die Here is by julle,” het hy gesê. “Hy het vir julle vrede met die volke rondom julle gegee. Hy het hulle aan my onderwerp en hulle is nou ondergeskik aan die Here en sy volk.

19. Sorg nou dat julle doen wat die Here wil hê. Maak reg en bou die heilige plek vir die Here God, sodat julle die verbondsark van die Here en die ander heilige voorwerpe van God in die tempel ter ere van God kan kom neersit.”