Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 21:19-30 Die Boodskap (DB)

19. Dawid het dit dadelik gedoen.

20. Ornan en sy vier seuns was besig om koring te dors. Toe hy opkyk, het hy die engel gesien. Hy en sy seuns het dadelik gaan wegkruip.

21. Toe Ornan daarna vir Dawid na hom toe sien aankom, het hy voor Dawid neergebuig.

22. Dawid het toe vir Ornan gesê: “Verkoop asseblief die dorsvloer aan my teen sy volle prys. Ek wil ’n altaar hier bou sodat die siekte-epidemie kan ophou.”

23. Ornan wou egter niks van betaal weet nie. Hy het gesê: “Vat die grond vir u en doen wat nodig is. Ek gee dit vir u. Ek sal ook die osse gee as offerdiere en die dorsslee vir hout om vuur mee te maak en die koring as ’n voedseloffer. Dit is u s’n.”

24. Dawid het egter gesê: “Ek wil beslis vir alles betaal. Ek kan nie jou goed vir die Here offer en ’n brandoffer bring met iets wat my niks gekos het nie!”

25. Hy het die grond toe vir omtrent sewe kilogram goud van Ornan gekoop

26. en ’n altaar vir die Here op die dorsvloer gebou. Hy het brandoffers en vredesoffers vir die Here gebring. Toe Dawid tot die Here bid, het die Here met vuur uit die hemel geantwoord wat die offer op die altaar verbrand het.

27. Toe het die Here met die engel gepraat en hy het sy swaard gebêre.

28. Toe Dawid sien dat die Here sy gebede verhoor het, het hy offers op die dorsvloer gebring.

29. Op daardie stadium het die tabernakel van die Here, dit is die tent en die altaar wat Moses in die woestyn vir die Here gemaak het, nog op die hoogte by Gibeon gestaan.

30. Dawid kon egter nie toe daarheen gaan om uit te vind wat die Here se wil is nie, want hy was nog te bang nadat hy die groot swaard van die engel van die Here gesien het.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 21