hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 19 Die Boodskap (DB)

Dawid se boodskappers word in Ammon beledig

1. ’n Ruk later is Nagas, die Ammonitiese koning, dood. Sy seun Ganun het in sy plek koning geword.

2. Dawid het besluit om dieselfde vriendskap aan Ganun te bewys as wat Nagas vroeër aan Dawid bewys het. Hy stuur toe boodskappers na Ganun toe om medelye te betoon oor sy pa se dood.

3. Toe die boodskappers daar aankom, het die Ammonitiese familiehoofde vir Ganun gevra: “Dink jy nou regtig hulle is hier om Dawid se simpatie te betoon? Die eintlike rede is om die land te kom verken sodat hy dit vir homself kan vat.”

4. Ganun het die boodskappers toe gevang, elkeen se baard afgeskeer, hulle klere by die boude kort afgesny en hulle na Dawid toe teruggestuur.

5. Dawid het gehoor wat met hulle gebeur het. Hulle was te skaam om in die openbaar te verskyn en hy het vir hulle laat weet: “Bly in Jerigo totdat julle baarde weer uitgegroei het. Dan kan julle terugkom.”

Die eerste Ammonitiese veldtog

6. Die Ammoniete het besef dat hulle Dawid kwaad gemaak het. Koning Ganun en die Ammoniete het omtrent 34 ton silwer gestuur om strydwaens en bemanning by die Arameërs van Mesopotamië en Maäka asook by Soba te huur.

7. Hulle het 32 000 strydwaens gehuur en die steun van die koning van Maäka gewerf. Hy het met sy soldate buite Medeba kamp opgeslaan, terwyl die Ammoniete uit hulle dorpe saamgetrek het om reg te maak vir die oorlog.

8. Toe Dawid dit hoor, het hy Joab met sy leër van helde gestuur om te gaan veg.

9. Die Ammoniete het by die stadspoort gereed gestaan en die ander konings het hulle magte buite in die veld opgestel.

10. Joab het besef dat hy nou aan twee fronte sou moes veg. Hy het toe die beste vegters uitgesoek en hulle teenoor die Arameërs opgestel.

11. Die res het hy onder bevel van sy broer Abisai geplaas. Hulle moes teen die Ammoniete veg.

12. Hy het vir Abisai gesê: “As die Arameërs te sterk is vir my, moet jy my kom help. As die Ammoniete te sterk is vir jou, sal ek jou kom help.

13. Veg dapper! Laat ons dapper wees om ons volk en die stede van ons God te kan beskerm. En mag die Here se wil geskied!”

14. Joab en sy manne het die Arameërs aangeval. Die Arameërs het geswig en gevlug.

15. Toe die Ammoniete dit sien, het hulle ook voor sy broer Abisa gevlug en in die stad gaan wegkruip. Joab het toe na Jerusalem teruggegaan.

Oorwinning oor die Arameërs

16. Die Arameërs het besef dat Israel hulle verslaan het. Hulle het toe dringend versterkings aangevra. Sobak, die bevelvoerder van Hadad-Eser se leër, het dadelik met soldate van oorkant die Eufraatrivier af kom help.

17. Dawid het dit gehoor en die hele Israel vir oorlog opgeroep. Hulle het deur die Jordaanrivier getrek en die Aramese leër daar ontmoet. Dawid het sy soldate vir die geveg opgestel. Toe het die Arameërs aangeval.

18. Die Arameërs het nog ’n keer die onderspit gedelf en vir die Israeliete gevlug. Dié keer het Dawid 7 000 strydwaspanne en 40 000 voetsoldate doodgemaak. Die bevelvoerder, Sobak, is ook in die geveg dood.

19. Toe Hadad-Eser se mense sien dat Israel hulle verslaan het, het hulle met Dawid vrede gesluit en sy onderdane geword. Die Arameërs het ook nie verder hulp aan die Ammoniete gegee nie.