Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 18:6-17 Die Boodskap (DB)

6. Hy het toe beheerpunte in Damaskus, die Aramese hoofstad, opgerig. Daarna was die Arameërs Dawid se onderdane. Hulle moes belasting aan hom betaal. Só het die Here Dawid laat wen waar hy ook al oorlog gemaak het.

7. Dawid het die goue skilde wat Hadad-Eser se wagte gedra het, afgevat en Jerusalem toe gebring.

8. In die stede Tibgat en Kun, wat aan Hadad-Eser behoort het, het Dawid ’n groot hoeveelheid brons vir hom gevat. Later het Salomo dit laat smelt om die reusebronsbak wat bekend was as die “see”, asook die pilare buite die tempel en die bronsgereedskap wat in die tempel gebruik is, te laat maak.

9. Toe koning Toï van Hamat hoor dat Dawid vir Hadad-Eser verslaan het,

10. het hy sy seun Joram gestuur om Dawid geluk te wens met sy oorwinning. Hadad-Eser was in daardie stadium ook in ’n oorlog teen Toï gewikkel. Toï het ook geskenke van goud, silwer en brons vir Dawid gestuur.

11. Koning Dawid het hierdie geskenke ook vir die Here gegee. Hy het dit ook met al die silwer en goud gedoen wat hy van ander volke afgeneem het, soos die Edomiete, die Moabiete, die Ammoniete, die Filistyne en die Amalekiete.

12. Abisai, Seruja se seun, het 18 000 Edomiete in die Soutvlakte verslaan.

13. Hy het toe beheerpunte in Edom opgerig. Daarna was die Edomiete Dawid se onderdane. Só het die Here Dawid laat wen waar hy ook al gaan oorlog maak het.

14. Dawid het goed en eerlik oor die hele Israel regeer. Die belangrikste amptenare in die koninkryk was:

15. Joab, Seruja se seun, die bevelvoerder van die leër; Josafat, Agilud se seun, die staatshistorikus;

16. Sadok, Agitub se seun, en Agimelek, Abjatar se seun, die priesters; Sausa, die staatsekretaris;

17. Benaja, Jojada se seun, bevelvoerder van die koning se lyfwag. Dawid se eie seuns was van sy belangrikste amptenare.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 18