Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 17:8-20 Die Boodskap (DB)

8. Toe het die Here vir hom gesê:

9. “Gaan na Sarfat toe, naby Sidon. Bly ’n rukkie daar. In Sarfat sal ’n weduwee elke dag vir jou sorg.”

10. Elia is toe na Sarfat toe. Net toe hy die stad binnekom, sien hy ’n weduwee wat hout kap. Hy het haar nader geroep en gesê: “Gaan haal asseblief vir my ’n bietjie water.”

11. Terwyl sy wegstap, het Elia bygevoeg: “En sommer ook ’n stukkie brood, asseblief.”

12. Maar die vrou het geantwoord: “Meneer, ek sweer voor God dat ek niks brood het nie. Daar is nog net ’n bietjie meel in die blik en ’n paar druppels olie in die kan. Ek het hierheen gekom om ’n paar stukkies hout vir ’n vuurtjie te kap sodat ek vir my en my seun ’n laaste stukkie brood kan maak. As dit klaar is, is daar niks meer nie. Dan moet ons maar op die dood wag.”

13. “Moenie bekommerd wees nie,” het Elia gesê. “Gaan bak maar die brood en as dit klaar is, bring eers vir my ’n klein stukkie. Jy en jou seun kan dan die res kry.

14. Moenie bang wees nie, want die Here het vir my gesê dat jou meelblik en jou oliekan nie sal leeg word nie totdat Hy weer reën gestuur het.”

15. Die weduwee het gedoen soos Elia gesê het. Daar was elke dag oorgenoeg kos vir hulle al drie.

16. Soos die Here belowe het, was die meelblik nooit leeg nie en was daar altyd olie in die kan.

17. Na ’n ruk het die weduwee se seun baie siek geword. Sy koors het erger geword en later is hy dood.

18. “Meneer, wat het u my aangedoen?” het die vrou gesê. “Ek het u in my huis ingenooi, maar toe het u vir God van al my sondes vertel; daarom is my kind dood.”

19. “Gee die kind vir my,” het Elia gesê. Toe het Elia die kind van haar skoot af opgetel, hom na sy kamer op die boonste verdieping gedra en op sy bed neergelê.

20. Elia het gekniel en toe hardop gebid: “Here my God, waarom het U dit laat gebeur? Hierdie vrou was baie goed vir my. Sy het nog elke dag vir my gesorg. Waarom het U haar kind laat sterf?”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 17