Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 15:22-34 Die Boodskap (DB)

22. Asa het toe die hele Juda opgeroep. Niemand is verskoon nie. Hulle het na Rama opgeruk en al Baesa se stene en hout gevat en ander stede daarmee begin bou. Asa het Geba in Benjamin en Mispa met die materiaal uit Rama gebou.

23. Alles wat Asa verder gedoen het, sy dapper dade en al sy bouwerke, is in die boek Die lewe en werk van al Juda se konings opgeteken. Op sy oudag het Asa kruppel geloop omdat hy ’n voetsiekte gehad het.

24. Asa het gesterf en is in die grafte van die konings in die Dawidstad begrawe. Sy seun Josafat het hom opgevolg.

25. In die tweede jaar van Asa van Juda se regering het Nadab koning van Israel geword. Nadab het net twee jaar regeer.

26. Nadab het baie verkeerde dinge gedoen. Hy het sy pa se voorbeeld gevolg.

27. Baesa, ’n seun van Agija uit die stam van Issaskar, het ’n komplot teen Nadab gesmee om hom uit die weg te ruim. Terwyl Nadab op ’n keer vir Gibbeton, ’n stad in die Filistynse gebied, beleër het, het Baesa hom oorval en vermoor.

28. Dit het gedurende die derde jaar van koning Asa van Juda se regering gebeur. Baesa het in die plek van Nadab koning van Israel geword.

29. Baesa het dadelik Jerobeam se familie stelselmatig begin uitmoor.

30. Dit het natuurlik gebeur soos die Here ’n paar jaar tevore al deur sy profeet Agija van Silo voorspel het. Die hele Jerobeamfamilie is uitgewis. Nie een het oorgebly nie.

31. Alles wat Nadab gedoen het, is in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings geskryf.

32. Tussen Asa van Juda en Baesa van Israel was daar gedurig oorlog.

33. In die derde jaar van koning Asa van Juda se regering het Baesa, ’n seun van Agija uit Issaskar, koning van Israel geword. Hy het 24 jaar lank in Tirsa regeer.

34. Soos koning Jerobeam voor hom het Baesa net verkeerd gedoen en het hy Israel die verderf in gelei.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 15