Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 10:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Die koningin van Skeba het van Salomo en die Naam van die Here gehoor en besluit om hom in Jerusalem te gaan besoek. Sy wou hom met moeilike vrae toets.

2. Sy het ’n groot groep mense saam met haar Jerusalem toe gebring. Haar kamele was swaar gelaai met speserye, juwele en ’n groot klomp goud. Toe sy Salomo uiteindelik ontmoet, het sy hom met allerlei vrae bestook.

3. Vir Salomo was alles maklik. Hy het haar vrae met die grootste gemak beantwoord.

4. Toe die koningin van Skeba al Salomo se wysheid hoor en sy tempel sien, het sy amper geen woorde meer gehad nie.

5. Toe sy die kos op die tafel sien, asook die wonings van sy amptenare, die vermoë van sy paleispersoneel om goed te organiseer, die klere van sy amptenare, die bediening van sy kelners, en die offers wat hy by die tempel gebring het, het sy na haar asem gesnak.

6. Sy het vir Salomo gesê: “Alles wat ek van u in my eie land gehoor het, is waar. Alles is presies soos die mense gesê het.

7. Ek moes self kom kyk, anders sou ek dit nooit geglo het nie. En ek het skaars nog die helfte gehoor. U kennis en u rykdom is nog baie groter as wat hulle my vertel het.

8. Hoe gelukkig is u mense darem nie! Hoe gelukkig is die amptenare nie wat elke dag saam met u werk en al u wysheid hoor nie!

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 10