Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 12:4-19 Die Boodskap (DB)

4. Ek wil dit met die beeld van ’n liggaam verduidelik. ’n Liggaam bestaan uit baie ledemate. Ons as kerk is ook soos ’n liggaam.

5. Ons is Christus se liggaam hier op aarde. Net soos die verskillende liggaamsdele elkeen sy eie funksie het, het ons as gelowiges ook verskillende funksies.

6. Om ons te help om hierdie funksies te vervul het God vir ons elkeen besondere hemelse geskenke gegee. Ons almal het nie dieselfde geestelike geskenke van Hom ontvang nie. God het dit aan ons elkeen uitgedeel soos Hy goedgedink het.As jou hemelse geskenk is om God se boodskap bekend te maak, doen net dit. Maak sy wil bekend in die geloof wat jy daarmee saam uit God se hand ontvang het.

7. As jy oor die gawe beskik om ander mense te dien, dien hulle dan met oorgawe. As jou hemelse geskenk is om ander te leer waaroor ons verhouding met God gaan, doen net dit.

8. As jy die gawe het om ander mense te vermaan en te vertroos, doen dit. As jou hemelse gawe is om jou besittings met ander te deel, moet dan nie suinig wees nie. As dit God se geskenk aan jou is dat jy een van die leiers in die kerk moet wees, doen dit met toewyding. En as jy oor die gawe beskik om mense te help wat in nood verkeer, doen dit met blydskap.

9. Moenie net maak asof julle mekaar liefhet nie. Nee, gee regtig vir mekaar om. Haat alles wat sleg is. Doen net waarvan God hou.

10. Julle moet mekaar soos eie broers en susters liefhê. Behandel mekaar met groot respek en agting.

11. Moenie vir een enkele oomblik verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle met sy krag aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef. Dien die Here met groot oorgawe.

12. Sien met blydskap uit na daardie dag waarop die Here alles nuut kom maak. Moenie mismoedig word as julle ly omdat julle Christene is nie. Bid sonder ophou.

13. Help ander gelowiges wat swaarkry. Wees gasvry. Stel julle huise tot beskikking van gelowiges wat nie ’n plek het om tuis te gaan nie.

14. Moenie mense beledig wat julle vervolg nie. Bid eerder dat God sy goedheid in hulle lewens sal uitstort.

15. Lag en vier fees saam met elkeen wat bly is. Huil saam met elkeen wat hartseer is.

16. Leef in harmonie met mekaar. Moenie baklei nie. Moenie beter as ander mense probeer wees nie. Maak vriende met mense wat nie te veel van hulleself dink nie. Onthou: julle beskik nie oor al die kennis en wysheid in die wêreld nie. Wees nederig.

17. Moenie net regsit om ander mense in eie munt terug te betaal as hulle iets verkeerds aan julle gedoen het nie. Doen liewer goeie dinge sodat ander mense kan sien dat julle God dien.

18. Doen van julle kant af alles in julle vermoë om in vrede met ander mense te leef.

19. Laat staan al julle wraakplanne, my liewe broers en susters. Dit pas glad nie by gelowiges nie. Los sulke dinge vir God. Daar staan immers in die Bybel: “‘Ek alleen het die reg om te straf; Ek sal wraak neem,’” sê die Here.

Lees volledige hoofstuk Romeine 12