Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 22:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Die engel wys toe ook vir my ’n rivier. Die water van die rivier was kristalhelder. Wie hierdie water drink, leef vir ewig. Toe ek mooi kyk, sien ek dat hierdie rivier uit die troon van God en die Lam stroom.

2. Dit loop in die middel van die straat langs. Die boom wat lewe gee, was aan weerskante van die stroom geplant. Die boom het twaalf soorte vrugte gedra, een soort elke maand van die jaar. Daar was dus altyd genoeg vrugte om te eet. Selfs die blare van die boom het mense van hulle sondes en skuld genees. Daar sal nie ’n enkele ding oorbly waarmee God ontevrede is nie.

3. God en die Lam se troon sal in die stad staan. Daar sal hulle regeer. Al sy mense wat aan Hom gehoorsaam is, sal Hom daar met groot oorgawe en respek dien.

4. Hulle sal reguit na God kan kyk en sien hoe Hy lyk. Dat hulle aan God alleen behoort, sal uit hulle straal, want God se Naam sal oor hulle voorhoof geskryf staan.

5. Dit sal ook nooit donker word nie. Daarom sal lampe, ligte en selfs die son oorbodig wees. Die rede is dat die Here God self vir hulle soos lig sal wees. Hulle sal vir ewig en altyd soos konings leef. Nooit weer sal hulle iemand anders as net die Here dien nie.

6. En die engel sê toe vir my: “Jy kan al hierdie woorde maar glo. Dit is waar en niemand hoef daaroor te twyfel nie. Die Here God het mos sy boodskappers van ouds gebruik om sy woord te verkondig. Dieselfde God het nou sy boodskapper gestuur om vir al die mense wat Hom so getrou dien te wys wat een van die dae moet gebeur.

7. Maak jou reg; Ek kom gou! Enigeen wat die boodskap van God in hierdie boek lees, moet homself baie gelukkig ag!”

Lees volledige hoofstuk Openbaring 22