Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 21:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Ek sien toe ’n splinternuwe hemel en aarde. Die aarde, soos ons dit ken, het verdwyn en die hemel, soos ons dit ken, was nie meer daar nie.

2. Ek sien toe ook hoe God sy stad, die nuwe Jerusalem, uit die hemel laat afkom. Die stad was pragtig, soos ’n bruid wat haar vir haar bruidegom mooigemaak het.

3. Ek hoor toe ’n harde stem sê: “God bly nou by en tussen die mense; ja, Hy gaan saam met hulle bly. Hulle sal sy mense wees. Hy sal hulle God wees en by hulle wees.

4. As daar trane oor hulle wange loop, sal God self dit afdroog. Niemand sal meer daar doodgaan nie. Niemand sal hartseer wees of pyn ken nie. Hierdie slegte dinge van voorheen sal vir ewig en altyd verby wees.”

5. Die Een wat op die troon sit, sê toe: “Kyk mooi, Ek maak alles nuut!” Verder sê Hy: “Skryf dit neer. Hierdie woorde kan mense maar glo, want dit is waar! Wat Ek gesê het, het gebeur.

6. Alles begin by My en Ek besluit waar alles gaan eindig. Ek is die begin en die einde. As iemand geestelik dors is, sal Ek vir hom sorg. Ek sal vir hom water gee wat ’n mens se geestelike dors les en hom vir ewig laat leef. Dit alles is gratis.

7. Die persoon wat enduit as Christen volhou, sal soos ’n egte kind al hierdie dinge van My erf. Dit is my ooreenkoms. Ek sal vir hom God wees, en hy sal my kind wees.

8. “Maar ’n see van brandende vlamme en swael wag vir ander mense: dit is daardie lafhartige mense wat nie na My luister nie. Hulle doen die vieslikste dinge. Hulle gee nie om om ander mense dood te maak nie. Hulle slaap rond en doen seksuele dinge wat ’n mens nie behoort te doen nie. Om nie eens te praat van hoe hulle afgode dien en soos towenaars allerhande geestelike magte vir hulle eie voordeel probeer manipuleer nie. Dit is ook hulle wat so lieg. Nou ja, vir hulle wag daar geen toekoms nie, net die tweede dood.”

9. Een van die sewe engele kom toe nader (dit was een van die engele wat een van die sewe bakke met die laaste plae oor die aarde uitgegooi het).

10. Hy sê vir my: “Kom, ek wil vir jou die bruid wys, die vrou met wie die Lam gaan trou.” Hy vat my toe in die gees na ’n massiewe, hoë berg toe. Daar wys hy my dit toe: die stad wat God s’n is,

11. Jerusalem, daal voor my oë van die hemel af ondertoe. Dit kom van God self af, en dit kon ’n mens aan die stad self sien. Dit was so oorweldigend en wonderlik! Dit het geskitter soos die wonderlikste edelsteen, helder soos ’n diamant.

12. Rondom die stad was ’n hoë, dik muur.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 21