Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 27:34-48 Die Boodskap (DB)

34. Hulle wou vir Jesus wyn wat met galbitter kruie gemeng is as pynstiller gee. Toe Jesus dit proe, wou Hy dit nie drink nie.

35. Hulle het Jesus toe daar gekruisig.Die soldate het Jesus se klere onder mekaar verdeel deur lootjies te trek.

36. Daarna het hulle naby die kruis gaan sit en wag.

37. Bokant Jesus se kop was ’n nota vasgesit: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.”

38. Twee terroriste is ook saam met Hom gekruisig, een aan elke kant van Hom.

39. Die mense wat daar verbygeloop het, het net hulle kop geskud. Hulle het Jesus bespot en die lelikste dinge oor Hom gesê.

40. “Jy het so gespog dat jy die tempel sal afbreek en in drie dae weer sal opbou. Toe, wys nou wat daar in jou steek! As jy regtig die Seun van God is, red jouself. Klim daar van die kruis af, as jy natuurlik kan.”

41. Die Joodse leiers en geleerdes het ook lekker saamgespot:

42. “Hy het ander gered. Nou is hy self in die moeilikheid en kan skielik niks doen nie. Ja-nee, dit is nou vir jou die ‘koning van Israel’, nè! As hy nou daar van die kruis afkom, sal ons sowaar in hom glo.

43. Hy was so seker dat God aan sy kant is. Hy het selfs beweer dat hy die Seun van God is. Wel, laat ons nou sien. God sal hom mos kom help as al hierdie dinge waar is.”

44. Die terroriste langs Hom het ook nie op hulle laat wag nie. Hulle het Jesus lekker saam met die ander gekoggel.

45. Skielik word alles oor daardie hele gebied donker. Tussen twaalfuur en drie-uur was dit donker.

46. Teen drie-uur skreeu Jesus hard: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” oftewel: “My God, my God, waarom het U My alleen gelaat?”

47. Van die omstanders het Hom gehoor en gesê: “Hy roep Elia!”

48. Een van hulle gaan haal ’n spons met suur wyn en gee dit vir Hom op ’n stok.

Lees volledige hoofstuk Matteus 27