Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 18:8-25 Die Boodskap (DB)

8. “Natuurlik is dit nie maklik om te glo nie. Dit is net so swaar soos om een van jou eie ledemate af te kap. Jy moet as’t ware jou hand of jou voet afkap en dit in die asblik gooi as jy agterkom dat jy dinge daarmee doen waarvan God niks hou nie. Leef liewer sonder hande en voete. Leef soos iemand wat lam of kruppel is, al is dit verskriklik swaar. Anders beland jy binnekort in die hel. En wat gaan jy daar met twee gesonde hande en voete maak?

9. “Pluk jou oog uit en gooi dit dadelik weg as jy agterkom dat jy op die verkeerde manier daarmee kyk. Leef eerder met een oog, al is dit baie swaar. Sondige kyke gaan jou in elk geval net in die hel laat beland. En wat help dit jou om in die hel baie goed te kan sien?”

10. “Moenie neersien op die ou kleintjies wat in My glo nie. Hulle is so kosbaar dat selfs die heel belangrikste engele daar in die hemel by my Vader se troon gedurig oor hulle praat.

12. “Stel julle die volgende prentjie voor: ’n boer het 100 skape. Een raak skielik weg. Wat dink julle sal die boer doen? Hy sal die 99 skape net daar laat staan en begin soek na die skaap wat weggeraak het.

13. Wanneer hy hom uiteindelik kry, is hy sommer baie bly. Ja, hy is nog blyer oor die skaap wat hy gekry het as oor die 99 wat nie weggeraak het nie.

14. “Weet julle, my Vader maak presies net soos hierdie boer. Hy hou aan met soek na elkeen van sy ou kleintjies wat oor ’n sonde neergeslaan het totdat Hy hulle kry. Dan gaan tel Hy hulle op. Omdat hulle vir Hom kosbaar is, wil Hy nie hê dat een van hulle verlore gaan nie.”

15. “As ’n ander gelowige jou op die een of ander manier sleg behandel het, moet jy die saak alleen met hom gaan uitpraat. As hy na jou luister, was dit alles die moeite werd. Dan het jy hom teruggekry op God se pad.

16. As dit nie help nie, moet jy nog een of twee persone saamvat en weer gaan probeer. Die teenwoordigheid van twee of drie getuies kan hom dalk tot sy sinne ruk.

17. Wanneer hy selfs nie na hulle wil luister nie, moet jy maar vir al die ander gelowiges gaan vertel wat gebeur het. As dit uiteindelik ook nie help nie, moet julle hierdie persoon as ’n ongelowige en ’n sondaar beskou. So iemand hoort dan nie meer in die kerk nie.

18. “Ek gee aan julle groot gesag: ’n ja van julle hier op aarde is ’n ja in die hemel. En ’n nee van julle is ’n nee in die hemel. Wat Ek bedoel, is dit: as julle iemand wat tot bekering gekom het as ’n broer of ’n suster binne die kerk ontvang, geld dit ook in die hemel. En as julle iemand wat in sonde leef, verbied om langer aan die kerk te behoort geld dit ook in die hemel.

19. “Ek het nog goeie nuus vir julle. As twee van julle saamstem oor enige saak wat swaar op julle hart lê en julle gaan praat met my hemelse Vader daaroor, sal julle gebed verhoor word. Julle sal kry wat julle gevra het.

20. Onthou: Ek is altyd by julle, selfs daar waar net twee of drie van julle in my Naam bymekaarkom om te bid.”

21. Petrus vra toe vir Jesus: “Here, sê my, hoeveel keer moet ek iemand vergewe wat verkeerd teenoor my opgetree het? Tot sewe maal?”

22. “Nee, nie net sewe keer nie,” het Jesus geantwoord. “Sewentig maal sewe keer. Moenie tel hoeveel keer jy ander mense vergewe nie. Vergifnis hou net aan en aan.”

23. Toe vertel Jesus vir hulle ’n verhaal om te verduidelik wat Hy bedoel: “In God se nuwe wêreld gaan dit soos met ’n koning wat op ’n dag besluit het om sy boeke na te gaan en te kyk wie van sy onderdane hom geld skuld.

24. Toe hy begin sommetjies maak, kom hy agter dat een van sy amptenare hom twintig miljoen rand skuld.

25. Hy was baie geskok hieroor en het die man dadelik ontbied. Toe die man opdaag, het hy vir die koning gesê dat hy bankrot is. Hy kon nie sy skuld betaal nie. Die koning was woedend daaroor. ‘Verkoop hom en sy vrou en kinders daar op die mark as slawe. Verkoop ook al hulle besittings. So kry ek darem ’n paar rand terug.’

Lees volledige hoofstuk Matteus 18