Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 18:1-18 Die Boodskap (DB)

1. Op ’n dag het die dissipels vir Jesus kom vra: “Sê vir ons: Wie is die heel belangrikste persoon in God se wêreld? Wie maak vir Hom die meeste van almal saak?”

2. Toe doen Jesus ’n vreemde ding. Hy roep een van die kindertjies wat daar rondspeel nader. Hy laat dié toe tussen hulle staan

3. en sê: “Ek gaan julle nou een van die belangrikste lesse van julle hele lewe leer. Kyk, julle moet verander en weer soos hierdie kindertjies word, anders sal julle nooit die binnekant van my Vader se nuwe wêreld sien nie. Kindertjies is nederig. Hulle dink nie te veel van hulleself nie. Hulle het respek vir ander.

4. Julle moet ook so leef. Julle moet julle eie belange tweede stel en ander mense respekteer, dan is julle die belangrikste in God se nuwe wêreld.

5. “Elkeen wat een van hierdie kindertjies soos ’n vriend ontvang en hom goed behandel, ontvang My ook as vriend en behandel My goed.

6. “Maar elkeen wat veroorsaak dat een van hierdie ou kleintjies se geloof ’n knou kry, gaan in groot moeilikheid wees. Wanneer iemand daarvoor verantwoordelik is dat my kleintjies die spoor byster raak, is dit eintlik vir hulle beter in die middel van die see met ’n reuserots om hulle nek, want God gaan hulle verskriklik swaar straf.

7. “Dis nou maar een maal so dat daar allerhande sondes en versoekings in hierdie wêreld is. Maar Ek sê vir julle: daar wag groot probleme op almal wat hierdie sondes uitdink. God se oordeel wag op hulle.

8. “Natuurlik is dit nie maklik om te glo nie. Dit is net so swaar soos om een van jou eie ledemate af te kap. Jy moet as’t ware jou hand of jou voet afkap en dit in die asblik gooi as jy agterkom dat jy dinge daarmee doen waarvan God niks hou nie. Leef liewer sonder hande en voete. Leef soos iemand wat lam of kruppel is, al is dit verskriklik swaar. Anders beland jy binnekort in die hel. En wat gaan jy daar met twee gesonde hande en voete maak?

9. “Pluk jou oog uit en gooi dit dadelik weg as jy agterkom dat jy op die verkeerde manier daarmee kyk. Leef eerder met een oog, al is dit baie swaar. Sondige kyke gaan jou in elk geval net in die hel laat beland. En wat help dit jou om in die hel baie goed te kan sien?”

10. “Moenie neersien op die ou kleintjies wat in My glo nie. Hulle is so kosbaar dat selfs die heel belangrikste engele daar in die hemel by my Vader se troon gedurig oor hulle praat.

12. “Stel julle die volgende prentjie voor: ’n boer het 100 skape. Een raak skielik weg. Wat dink julle sal die boer doen? Hy sal die 99 skape net daar laat staan en begin soek na die skaap wat weggeraak het.

13. Wanneer hy hom uiteindelik kry, is hy sommer baie bly. Ja, hy is nog blyer oor die skaap wat hy gekry het as oor die 99 wat nie weggeraak het nie.

14. “Weet julle, my Vader maak presies net soos hierdie boer. Hy hou aan met soek na elkeen van sy ou kleintjies wat oor ’n sonde neergeslaan het totdat Hy hulle kry. Dan gaan tel Hy hulle op. Omdat hulle vir Hom kosbaar is, wil Hy nie hê dat een van hulle verlore gaan nie.”

15. “As ’n ander gelowige jou op die een of ander manier sleg behandel het, moet jy die saak alleen met hom gaan uitpraat. As hy na jou luister, was dit alles die moeite werd. Dan het jy hom teruggekry op God se pad.

16. As dit nie help nie, moet jy nog een of twee persone saamvat en weer gaan probeer. Die teenwoordigheid van twee of drie getuies kan hom dalk tot sy sinne ruk.

17. Wanneer hy selfs nie na hulle wil luister nie, moet jy maar vir al die ander gelowiges gaan vertel wat gebeur het. As dit uiteindelik ook nie help nie, moet julle hierdie persoon as ’n ongelowige en ’n sondaar beskou. So iemand hoort dan nie meer in die kerk nie.

18. “Ek gee aan julle groot gesag: ’n ja van julle hier op aarde is ’n ja in die hemel. En ’n nee van julle is ’n nee in die hemel. Wat Ek bedoel, is dit: as julle iemand wat tot bekering gekom het as ’n broer of ’n suster binne die kerk ontvang, geld dit ook in die hemel. En as julle iemand wat in sonde leef, verbied om langer aan die kerk te behoort geld dit ook in die hemel.

Lees volledige hoofstuk Matteus 18