Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 6:28-43 Die Boodskap (DB)

28. Hy het dit op ’n skinkbord vir die meisie gevat, wat dit weer vir haar ma gegee het.

29. Toe die volgelinge van Johannes dit hoor, het hulle sy liggaam gaan haal en hom behoorlik begrawe.

30. Die mense wat Jesus uitgestuur het, het na ’n ruk teruggekom. Hulle het Jesus alles vertel wat hulle gedoen en gesê het.

31. Maar dit was omtrent soos ’n malhuis rondom Jesus. Mense het so gekom en gegaan dat Jesus-hulle nie eens ’n kans gekry het om te eet nie. Jesus stel toe voor dat net hulle klein groepie saam na ’n stil plek gaan om ’n bietjie te gaan rus.

32. Hulle is toe saam in ’n skuit na ’n plek waar hulle op hulle eie kon wees.

33. Maar ’n klomp mense het hulle gesien gaan. Hulle hardloop toe al met die strand langs en was selfs voor Jesus-hulle nog by die plek. Van oral af het die mense gekom.

34. Toe Jesus-hulle daar land, wag daar natuurlik ’n massa mense vir hulle. Dit het Jesus diep geraak. Daar staan die mense rond en hulle lyk net soos ’n klomp skape wat nie ’n herder het om hulle te lei nie. Jesus begin toe met hulle oor God en sy dinge gesels.

35. Dit het later begin skemer raak. Jesus se volgelinge kom hou toe kajuitraad met Hom. “Ons is so ver van winkels af en kyk hoe laat is dit al.

36. Dink U nie dit is ’n goeie plan om die mense te vra om gou by die winkeltjies in die omgewing vir hulle iets te gaan kry om te eet nie?”

37. “Nee wat,” sê Jesus. “Gee julle sommer vir hulle iets om te eet.”“Om vir hierdie klomp mense kos te gee sal ’n fortuin kos, sowat agt maande se salaris. Wil U regtig hê ons moet soveel geld spandeer net om vir hulle kos te gee?”

38. “Gaan kyk ’n bietjie hoeveel kos ons het,” vra Jesus toe.Hulle kyk toe rond. “Vyf brode en twee visse,” kom die antwoord.

39-40. Jesus vra toe sy getrouste volgelinge om die mense in groepies, so tussen 50 en 100, op die groen gras te laat sit.

41. Jesus vat die kos en sê vir God dankie daarvoor. Voor die mense begin Hy toe die kos deel, terwyl sy volgelinge dit vir hulle gee om te eet.

42. Almal het geëet tot hulle genoeg gehad het.

43. Daarna het sy volgelinge die kos bymekaargemaak wat oorgebly het, ’n hele twaalf mandjies vol.

Lees volledige hoofstuk Markus 6