Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 3:22-34 Die Boodskap (DB)

22. Die kenners van die Joodse wet wat van Jerusalem af gekom het, het weer gesê: “Dit is Beëlsebul, die hoof van die duiwelse geeste, wat in hom bly. Die einste Beëlsebul help hom ook om die duiwelse geeste te verjaag.”

23. Jesus roep hulle toe en verduidelik vir hulle met ’n voorbeeld hoe verkeerd hulle regtig is. “Hoe kan Satan homself uitdryf?

24. ’n Regering waarin groepe gedurig onder mekaar baklei, kan mos nêrens kom nie.

25. ’n Gesin waarin elkeen heeltyd die ander een boikot, sal mos uitmekaarspat.

26. Met Satan is dit nie anders nie. As Satan nou teen homself oorlog verklaar en homself oral uitdryf, gaan daar niks van hom oorbly nie. Dan is dit verby met hom.

27. Aan die ander kant kan ’n mens ook nie in ’n sterk man se huis instap en vat wat jy wil hê nie. Jy moet eers sorg dat die sterk man vasgebind is voordat jy sulke dinge kan doen.

28. Sowaar, Ek sê vir julle: daar is niks wat julle kan doen of sê wat so sleg is dat God dit nie kan vergewe nie, selfs al praat julle lelik van Hom.

29. Maar daar is een ding wat God net mooi niks van hou nie: dit is as mense sê dat die dinge wat die Gees doen van die duiwel af kom. God sal dit vir altyd teen so ’n persoon hou.”

30. Dit het Jesus gesê omdat daar mense was wat beweer het dat ’n bose gees in Hom werk.

31. Jesus se ma en broers kom toe juis daar aan. Hulle het buite gewag en iemand gevra om Jesus te gaan roep.

32. Die mense het om Jesus gesit toe hulle Hom kom roep. “Jou ma en broers wag hier buite vir jou,” sê hulle.

33. Jesus sê toe: “Wie is regtig my ma en broers?”

34. Hy kyk toe na die mense wat om Hom sit en sê: “Hier is my regte familie.

Lees volledige hoofstuk Markus 3