Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 15:6-20 Die Boodskap (DB)

6. Gedurende die paasfees het die Romeine gewoonlik een persoon vrygelaat wat in die tronk was. Die mense kon kies wie. Juis toe was daar ’n bende rebelle in die tronk.

7. Een van hulle was ’n man met die naam Barabbas.

8. Die bende het amok gemaak, die mense opgestook en selfs moord gepleeg. Die mense kom vra toe vir Pilatus wanneer hy dan soos gewoonlik ’n gevangene gaan vrylaat.

9. “Hoe lyk dit, kan ek maar die koning van die Jode loslaat?” vra Pilatus toe.

10. Hy was nie dom nie - hy het geweet dat die leiers van die priesters net jaloers was op Jesus en net daarom het hulle Hom kom aankla.

11. Die priesters het niks gehou van Pilatus se voorstel nie en het die klomp mense buitekant opgesweep om te vra dat Barabbas eerder losgelaat moet word.

12. Weer vra Pilatus hulle: “Wat moet ek dan doen met die een wat julle die koning van die Jode noem?”

13. “Kruisig hom!” gil hulle.

14. “Maar hoekom? Wat het hy dan verkeerd gedoen?” vra Pilatus.Die klomp mense het net harder geskree: “Kruisig hom!”

15. Pilatus wou die skare tevrede hou. Daarom het hy maar vir Barabbas laat gaan. Vir Jesus het hy laat martel deur Hom met ’n sweep te laat slaan en toe gesê dat hulle Hom moet kruisig.

16. Die Romeinse soldate vat Jesus toe weg na ’n soort binneplein in Pilatus se paleis. Hulle roep al die ander soldate van hulle afdeling ook.

17. Daar het hulle vir Jesus pers klere aangetrek en ’n kroon wat hulle van dorings gevleg het, op sy kop gedruk sodat Hy kamma soos ’n koning lyk.

18. Toe begin hulle maak asof hulle Hom soos ’n belangrike koning groet: “Bly om u te ontmoet, o koning van die Jode!” skree hulle.

19. Weer en weer het hulle Hom met ’n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg. Dan val hulle weer kamma op hulle knieë en maak asof hulle Jesus as ’n vreeslik belangrike persoon eer.

20. Toe hulle uiteindelik moeg was om Jesus so te spot, trek hulle die pers klere uit en trek Jesus se eie klere weer vir Hom aan. Toe vat hulle Jesus na die plek toe waar Hy gekruisig moes word.

Lees volledige hoofstuk Markus 15