Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 12:27-44 Die Boodskap (DB)

27. God is nie ’n dooie God of die God van die dooies nie. Julle wil dit nie glo nie, maar glo My, julle maak ’n reusefout.”

28. ’n Geleerde Jood wat veral goed was met die uitlê van wat die Skrif sê, kom toe daar verby. Hy het gehoor met watter goeie antwoord Jesus die Sadduseërs in ’n hoek gedryf het. Hy begin toe ook met Jesus argumenteer: “As ’n mens nou aan al die opdragte en wette van God dink, watter een dink jy is die belangrikste?”

29. Jesus antwoord toe: “Boaan die lys staan: Luister mooi, die Here ons God is die enigste Here wat daar is.

30. Jy moet Hom liefhê met alles wat jy is en het. Niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie.

31. Maar langs hierdie opdrag staan ’n tweede een: jy moet ander mense so liefhê asof hulle jy self is. Daar is nie ’n ander opdrag wat naby hierdie twee kom nie.”

32. “Jy het dit baie mooi gestel. Ek kan sien dat jy mense goed kan leer,” sê die Joodse geleerde toe. “Dit is waar, daar is net een God en daar is geen ander nie.

33. Dat ons Hom moet liefhê met alles wat ons is en het, is regtig baie belangriker as allerhande godsdienstige dingetjies wat ons doen, soos om geskenke vir God tempel toe te bring of om spesiaal tempel toe te kom om aan God te offer.”

34. Jesus kon sien dat hierdie Joodse geleerde weet waarvan hy praat en het toe vir hom gesê: “Jy is baie naby aan God se nuwe wêreld.” Die vrae het opgedroog, want niemand het meer kans gesien om met Jesus in ’n argument betrokke te raak nie.

35. Jesus was weer in die tempel besig om mense van God te vertel. Hy vra toe vir die mense by Hom: “Hoekom sê die Joodse skrifkenners dat die beloofde Redder uit die familie van koning Dawid gaan kom?

36. Kyk wat het die Heilige Gees Dawid in die Skrif laat skryf:‘Die Here het vir my Here gesê: Sit hier op die ereplek langs My tot Ek met al jou vyande klaargespeel het en hulle magteloos voor jou lê.’

37. “Uit hierdie deel sien ons dat Dawid die Redder wat beloof is ‘Here’ noem. Hoe kan Hy dan terselfdertyd ook Dawid se seun wees?”

38. Vir die groot groep mense wat daar na Hom gesit en luister het, was dit lekker om te hoor hoe Hy oor God se dinge praat. Terwyl Jesus so oor die dinge van God praat, sê Hy: “Wees baie versigtig vir die geleerde Jode wat so alles van die Skrif af weet. Hulle hou tog so daarvan om gesien te word. Hulle loop met hulle spoggerige klere rond waar die meeste mense hulle kan sien en groet almal dan kamma vriendelik.

39. As jy hulle in die erediens soek, kyk maar net daar op die voorste plekke waar almal hulle kan sien. En as die mense ’n fees hou, hou net die belangrikste plekke dop - daar sal jy hulle kry. Maar kyk ’n bietjie wat hulle regtig doen.

40. Hulle sal vroue wat nie mans het nie en nie mooi weet hoe dinge werk nie kul sonder om ’n oog te knip. So sal hulle die vroue se huise kry. Ai, dan bid hulle nog sulke lang gebede om mense met hulle vroomheid te beïndruk. God gaan sulke mense dubbel en dwars straf.”

41. Jesus het toe ’n rukkie lank regoor die kollekteborde in die tempel gaan sit. Hy kyk toe wat die mense vir die tempel ingooi. Daar was ryk mense wat sommer baie geld ingegooi het.

42. ’n Baie arm vrou, wat nie meer ’n man gehad het om vir haar te sorg nie, kom gooi toe twee stukkies kopergeld in. Dit was so te sê niks werd nie.

43. Jesus roep toe sy dissipels. “Luister nou mooi wat Ek vir julle sê. “Het julle daardie arm vrou gesien wat die twee koperstukkies ingegooi het? Sy het meer vir God gegee as enigeen van die ander.

44. Al die ander het gegee omdat hulle so baie het. Hulle sal dit nie eens mis nie. Maar sy is brandarm en het niks nie. Die bietjie wat sy gehad het om iets mee te koop om te eet het sy vir God gegee. Ja, sy het alles vir Hom gegee.”

Lees volledige hoofstuk Markus 12