Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 12:1-6 Die Boodskap (DB)

1. Jesus vertel toe vir hulle verhale om hulle meer van die geestelike dinge te leer: “’n Boer het vir hom ’n pragtige wingerd aangeplant. Hy het baie druiwe geplant en ’n stewige heining omgesit. Verder het hy alles gebou wat nodig was om net daar by die wingerd wyn ook te kon maak. Hy het tot ’n plek gemaak waar ’n wag kon sit om die druiwe op te pas. In ’n stadium moes hy ver gaan reis. Hy verhuur toe sy wingerd met die ooreenkoms dat die huurders vir hom ’n deel van die druiwe-oes sou gee.

2. Toe die oestyd kom, stuur hy een van sy werkers om sy deel van die druiwe te gaan haal.

3. Toe die werker daar aankom, gryp die huurders hom, gee hom ’n paar taai klappe en stuur hom sonder ’n enkele druiwekorrel daar weg.

4. Weer probeer die eienaar - hy stuur nog ’n werker. Met hom het dit nog slegter gegaan as met die vorige een. Die huurders het hom oor die kop geslaan en liederlik beledig.

5. Nog ’n keer het die eienaar probeer, en nog ’n keer, en nog ’n keer. Maar die huurders wou niks weet nie. Hulle het van die werkers vir wie die eienaar gestuur het, aangerand en ander het hulle selfs doodgemaak.

6. “Uiteindelik was daar nog net een oor wat hy kon stuur en dit was sy eie seun. Hy het sy seun baie liefgehad en het eers mooi daaroor gedink. ‘Hulle sal my seun darem sekerlik met groter respek behandel,’ het hy geredeneer.

Lees volledige hoofstuk Markus 12