Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 6:41-47 Die Boodskap (DB)

41. “Waarom is jy so haastig om foute in ander mense se lewe uit te snuffel terwyl jy blind is vir al die sondes in jou eie lewe? Waarom sien jy so gou die kleinste splintertjie in jou vriend se oog raak terwyl jy blind is vir daardie groot houtstomp wat in jou eie oog vassit?

42. En dan waag jy dit so ewe om vir jou vriend te sê: ‘My ou broer, kom laat ek gou-gou daardie splintertjie uit jou lewe wegvat sodat jy weer reg kan leef,’ maar jy sien nie die groot foute in jou eie lewe raak nie. Jou skynheilige! Haal eers die houtstomp uit jou eie oog uit, dan sal jy goed genoeg kan sien om daardie klein splintertjie uit jou vriend se oog te haal.”

43. “’n Goeie boom dra nooit slegte vrugte nie. En ’n slegte boom dra ook nooit goeie vrugte nie.

44. ’n Mens ken ’n boom uit aan die soort vrugte wat dit oplewer. Niemand verwag tog om vye aan ’n doringbos te kry nie. Of druiwe aan ’n spul doringtakke nie.

45. Goeie mense is soos goeie bome. Uit hulle binneste kom daar net goeie dinge. En slegte mense is soos slegte bome. Uit hulle binneste kom daar net lelike dinge. Luister maar net wat mense sê, dan weet julle watter soort mense hulle is. Mense se woorde wys wat in hulle harte aangaan.

46. “Julle praat so maklik. Kyk net hoe graag sê julle: ‘Here, ons Here,’ maar julle doen net mooi niks wat Ek vir julle sê nie.

47. “Mense wat luister na wat Ek sê en dit doen, is verstandig.

Lees volledige hoofstuk Lukas 6