Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 24:23-36 Die Boodskap (DB)

23. Hulle kom vertel toe vir ons dat engele daar na hulle toe gekom en vir hulle gesê het Jesus leef weer.

24. ’n Paar ander mense het toe vinnig na die graf toe gegaan en dit leeg gekry. Jesus se liggaam was nie meer daar nie.”

25. Jesus sê toe vir hulle: “Ek kan nie glo julle geloof is so klein nie. Hoekom glo julle nie wat God se boodskappers in die Bybel sê nie?

26. Weet julle nie dat die Messias, God se Gestuurde, eers moes kom ly voordat Hy na sy hemelse woning teruggaan nie?”

27. Toe het Jesus stap vir stap vir hulle verduidelik wat Moses en al die ander profete in die Bybel oor Hom geskryf het.

28. Later het hulle by Emmaus aangekom. Toe Jesus sê dat Hy nog verder moet stap, het die twee dadelik gesê:

29. “Nee, wag! Kom bly asseblief vanaand by ons oor. Dis netnou donker.” Jesus het ingestem en saam met hulle na hulle huis toe geloop.

30. ’n Rukkie later, toe die aandete klaar was, het hulle by die tafel gaan aansit. Jesus vat toe die brood, sê vir God daarvoor dankie en deel dit aan hulle uit.

31. Toe gaan die twee se oë skielik oop. Hulle het Jesus herken. Maar voordat hulle nog iets kon sê, het Hy verdwyn.

32. “Dis waar!” het hulle bly vir mekaar gesê. “Ons moes dit eintlik al besef het toe Hy netnou so oortuigend uit die Bybel met ons gepraat het. Toe Hy vir ons gewys het wat regtig daar staan, het ons harte omtrent opgewonde geklop!”

33. Dadelik het die twee opgestaan en vinnig in die donker teruggestap Jerusalem toe. Toe hulle daar aankom, is hulle direk na die plek toe waar die elf apostels en die ander volgelinge van Jesus was. Maar voordat die twee ’n woord kon uitkry, sê die apostels en die ander vir hulle:

34. “Ons het goeie nuus vir julle. Jesus leef! Hy het aan Simon Petrus verskyn!”

35. “Ons het net sulke goeie nuus vir julle,” sê die twee. Hulle vertel toe hoe Jesus saam met hulle kom stap het en hoe hulle Hom herken het toe Hy die brood daar in hulle huis gebreek het.

36. Terwyl almal nog opgewonde praat oor wat met Petrus en die twee mans uit Emmaus gebeur het, staan Jesus skielik daar by hulle. “Vrede vir julle,” het Hy vir hulle gesê.

Lees volledige hoofstuk Lukas 24