Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 24:19-33 Die Boodskap (DB)

19. “Wat?” vra Jesus toe.“Wel, Jesus van Nasaret, daardie groot Boodskapper van God, is Vrydag daar doodgemaak. Hy het groot wonderwerke gedoen en met gesag oor God se nuwe wêreld gepraat.

20. Maar toe het die spul godsdienstige leiers van ons volk Hom gevang. Daarna is Hy skuldig bevind en gekruisig.

21. Ons het so gehoop dat Jesus regtig die groot Verlosser van Israel sou wees. Hy het dan vir almal gesê dat Hy ons kom verlos. Maar Hy was verkeerd, want Hy is nou dood en begrawe. Ja, vandag is Hy al drie dae dood.

22. “O ja, ons het ook nog ander nuus gehoor wat ons baie omgekrap het. ’n Klompie vroue wat saam met ons vir Jesus gevolg het, was vanoggend vroeg daar by sy graf. Maar sy liggaam was skoonveld.

23. Hulle kom vertel toe vir ons dat engele daar na hulle toe gekom en vir hulle gesê het Jesus leef weer.

24. ’n Paar ander mense het toe vinnig na die graf toe gegaan en dit leeg gekry. Jesus se liggaam was nie meer daar nie.”

25. Jesus sê toe vir hulle: “Ek kan nie glo julle geloof is so klein nie. Hoekom glo julle nie wat God se boodskappers in die Bybel sê nie?

26. Weet julle nie dat die Messias, God se Gestuurde, eers moes kom ly voordat Hy na sy hemelse woning teruggaan nie?”

27. Toe het Jesus stap vir stap vir hulle verduidelik wat Moses en al die ander profete in die Bybel oor Hom geskryf het.

28. Later het hulle by Emmaus aangekom. Toe Jesus sê dat Hy nog verder moet stap, het die twee dadelik gesê:

29. “Nee, wag! Kom bly asseblief vanaand by ons oor. Dis netnou donker.” Jesus het ingestem en saam met hulle na hulle huis toe geloop.

30. ’n Rukkie later, toe die aandete klaar was, het hulle by die tafel gaan aansit. Jesus vat toe die brood, sê vir God daarvoor dankie en deel dit aan hulle uit.

31. Toe gaan die twee se oë skielik oop. Hulle het Jesus herken. Maar voordat hulle nog iets kon sê, het Hy verdwyn.

32. “Dis waar!” het hulle bly vir mekaar gesê. “Ons moes dit eintlik al besef het toe Hy netnou so oortuigend uit die Bybel met ons gepraat het. Toe Hy vir ons gewys het wat regtig daar staan, het ons harte omtrent opgewonde geklop!”

33. Dadelik het die twee opgestaan en vinnig in die donker teruggestap Jerusalem toe. Toe hulle daar aankom, is hulle direk na die plek toe waar die elf apostels en die ander volgelinge van Jesus was. Maar voordat die twee ’n woord kon uitkry, sê die apostels en die ander vir hulle:

Lees volledige hoofstuk Lukas 24