Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 22:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Die paasfees was nou voor die deur. Tydens hierdie fees het die Jode ’n lam geslag en ongesuurde brood geëet. Hulle het dan teruggedink aan hoe God hulle voorvaders daar uit Egipte bevry het.

2. Die godsdienstige leiers was baie omgekrap oor alles wat Jesus in die tempel gesê het. Hulle het toe besluit dis genoeg. Jesus moes doodgemaak word. Maar hulle het nie mooi geweet hoe nie, want die skare was in vervoering oor Hom. Toe kry hulle hulp uit ’n onverwagse oord.

3. Judas Iskariot, een van Jesus se eie dissipels, het agteraf na hulle toe gekom en vir hulle gesê dat hy hulle sou help om Jesus te vang.

4. Die duiwel self het in Judas ingevaar.

5. Die godsdienstige leiers was in ekstase oor Judas se aanbod. “Ons sal jou baie goed betaal,” het hulle vir hom gesê.

6. Hulle het toe saam ’n plan uitgewerk hoe om Jesus te vang. “Ek sal wag vir die regte oomblik, dan sal ek vir julle ’n teken gee sodat julle Hom kan arresteer,” het Judas vir hulle gesê.

7. Die eerste dag van die paasfees waarop die paaslammetjies geslag moes word, het toe aangebreek.

8. Jesus het vir Petrus en Johannes geroep en gesê: “Gaan kry asseblief vir ons die paasmaaltyd gereed. Ons moet dit saam vier.”

9. “Waar moet ons dan die paasmaaltyd gaan voorberei?” vra hulle toe vir Hom. “Nie een van ons het dan ’n blyplek hier in Jerusalem nie.”

10. “Gaan gou in Jerusalem in,” sê Jesus vir hulle. “Wees op die uitkyk vir ’n man wat ’n emmer water dra.

11. Stap saam met hom na sy huis toe en sê vir hom: ‘Ons Meester vra: Waar is die kamer waar Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd moet kom eet?’

12. “Dan sal daardie man julle na ’n groot kamer op die boonste verdieping van sy huis toe vat waar alles klaar regstaan vir die paasmaaltyd.”

13. Petrus en Johannes is toe daar weg en het alles net so aangetref soos Jesus vir hulle gesê het. Hulle het toe gou-gou aan die werk gespring en die paasmaaltyd voorberei.

14. Teen sononder het die paasmaaltyd begin. Jesus en al twaalf apostels was daar.

Lees volledige hoofstuk Lukas 22