Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 21:31-37 Die Boodskap (DB)

31. Nou ja, al hierdie dinge wat Ek so pas vir julle vertel het, moet vir julle soos die ‘blaartjies en blommetjies’ wees wat sê dat God se nuwe wêreld voor die deur is.

32. “Luister mooi. Wat Ek nou sê, is spesiaal vir julle bedoel. In julle leeftyd sal hierdie dinge al begin gebeur. Moenie dink dis net praatjies nie.

33. Julle dink die hemel en die aarde staan vas, maar Ek sê vir julle dat my woorde nog honderd maal vaster staan.

34. “Staan reg vir daardie groot dag. Wees gereed. Moenie julle oorgee aan dronkpartytjies en allerhande vieslike sondes nie. Moet ook nie so besig raak met julle werk dat julle vergeet om te kyk hoe laat dit al op God se horlosie is nie. Dan gaan daardie dag julle heeltemal onkant betrap. Moenie soos baie ander mense op die laaste dag benoud begin rondhardloop omdat julle nie gereed is nie.

35. “Ek waarsku julle nou voor die tyd: kry julle lewe in orde. Vandag nog! Bid elke dag dat die Here julle sal oppas en julle sal help om reg te leef.

36. Dan sal julle vol vreugde voor die Seun van die mens gaan staan.”

37. In daardie tyd het Jesus elke dag na die tempel toe gegaan om met die mense te praat oor God se nuwe wêreld. In die aande het Hy op die Olyfberg net buitekant Jerusalem gaan slaap.

Lees volledige hoofstuk Lukas 21