Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 16:20-31 Die Boodskap (DB)

20. Dan was daar ook ’n baie arm man. Sy naam was Lasarus. Hy het nie ’n sent op sy naam gehad nie. Later was hy so swak en uitgehonger dat hy heeltyd daar voor die ryk man se huis gelê het.

21. Arme Lasarus; hy het dikwels gedroom hoe hierdie ryk man vir hom die oorskietkos uit sy huis bring om te eet. Maar selfs dit was hom nie beskore nie. Sy enigste vriende was die rondloperhonde wat nou en dan die swere aan sy lyf kom lek het.

22. Kort voor lank is Lasarus dood. Maar toe het ’n koninklike ontvangs in die hemel hom te beurt geval. Die engele het hom kom haal en reguit na Abraham toe gedra.

23. “’n Ruk later is die ryk man ook dood. Maar daar was geen engel om hom hemel toe te dra nie. Nee, hy het sy oë in die doderyk oopgemaak. Dit was verskriklik. Pyn en lyding was sy voorland. So in sy lyding sien hy eendag vir Abraham daar ver aan die ander kant raak. En ook vir Lasarus wat by Abraham sit.

24. Hy roep toe hard uit: ‘Vader Abraham, kry my tog jammer. Stuur asseblief vir Lasarus met ’n slukkie water vir my. Selfs net ’n druppeltjie water op my tong sal genoeg wees. Hierdie vuur is verskriklik. Ek kan die pyn nie langer uithou nie!’

25. “Maar Abraham sê vir hom: ‘Dink so ’n bietjie terug. Daar op die aarde het jy alles gehad wat jou hart begeer. Maar Lasarus het net swaargekry. Nou is die rolle omgekeer. Nou is Lasarus gelukkig, en jy ly baie. Weet jy, dis nou te laat om iets daaraan te doen.

26. In elk geval: tussen ons en julle is ’n yslike kloof wat niemand kan oorsteek nie. So, ons kan nie vir jou water bring nie. Jy kan ook nie hiernatoe kom nie.’

27. “Toe sê die man: ‘Dan smeek ek u om ten minste net vir Lasarus na my huis toe te stuur.

28. U sien, ek het nog vyf broers. En hulle is ook vinnig op pad na hierdie plek van lyding toe. Laat Lasarus hulle asseblief gaan waarsku voor dit te laat is.’

29. “‘Hoekom? Hulle het mos die Bybel,’ het Abraham geantwoord. ‘Hulle moet maar net luister na wat God daar in die wet en deur sy profete vir hulle sê.’

30. “‘Ag, vader Abraham, dit sal soveel beter wees as iemand wat reeds hier aan die ander kant van die dood leef na hulle toe gaan en hulle waarsku. Dan sal hulle hulle boeglam skrik en begin luister,’ sê die man toe.

31. “‘Nee, jy’s verkeerd,’ het Abraham vinnig geantwoord. ‘As hulle hulle nie aan God se Woord steur nie, sal niks anders hulle oortuig nie, nie eens iemand wat uit die hemel daar by hulle opdaag nie.’”

Lees volledige hoofstuk Lukas 16