Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 10:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Kort daarna het die Here 72 van sy volgelinge aangewys om twee-twee voor Hom uit te gaan na al die plekke toe waar Hy sou aandoen op pad Jerusalem toe.

2. Hy sê toe vir hulle: “Die lande staan ryp met ’n groot oes, maar daar is so min mense om die oes te gaan insamel. Vra die Here, aan wie hierdie oes behoort, om nog ekstra arbeiders te stuur.

3. “Gaan nou na die plekke toe waarheen Ek nog op pad is. Maar wees gewaarsku: daar wag groot gevare op julle. Ek stuur julle soos ’n klompie skape deur ’n bos wat wemel van gevaarlike diere.

4. “Julle moet só te werk gaan: Moenie ’n klomp geld saamvat nie. Dit is ook nie nodig om groot tasse met baie klere te pak nie. Moenie langs die pad met ander mense gesels nie.

5. “As julle in ’n huis inkom, sê dan: ‘God sal baie goed wees vir hierdie huis.’

6. As die eienaar julle net so vriendelik teruggroet, is alles in orde. Dan sal God se vrede by hom bly. Maar as hy julle nie goed ontvang nie, sal God se vrede nie by hom bly nie.

7. Bly oor in die huise waar die mense julle goed ontvang. Eet en drink alles wat hulle vir julle gee. Immers, iemand wat werk, word tog daarvoor betaal. Moenie na ’n ander huis gaan soek as julle te min kos kry nie.

8. In al die dorpe waarheen Ek julle stuur, moet julle by mense gaan bly wat julle goed ontvang. En wees tevrede met julle kos en slaapplek.

9. “Maak al die siek mense gesond wat julle raakloop. Sê ook vir hulle: ‘God se nuwe wêreld het tot hier by julle gekom.’

Lees volledige hoofstuk Lukas 10