Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 1:46-60 Die Boodskap (DB)

46. Maria het toe gesê:“Ek maak die Naam van die Here groot.

47. Ek juig oor God. Hy is my Redder.

48. Ek is glad nie belangrik nie, ek is maar een van God se diensmeisies; tog het Hy my raakgesien. Van nou af sal my naam op almal se lippe wees. Alle geslagte sal sê dat ek die gelukkigste vrou op die aarde is,

49. want die Almagtige het groot dinge aan my gedoen. Hy is heilig. Daar is niemand soos Hy nie.

50. Sy goedheid hou aan van geslag tot geslag. Die Here het magtige dinge gedoen.

51. Hy het maar net ’n beweging met sy hand gemaak, dan het groot dinge gebeur. Almal wat te veel van hulleself dink, het Hy oor die aarde verstrooi.

52. Magtige heersers het Hy van hulle trone afgestamp, en nederige mense belangrik gemaak.

53. Honger mense het Hy by ’n feesmaal laat aansit terwyl die rykes met leë hande moes wegstap.

54. God het sy volk Israel baie jammer gekry. Hy het nooit sy beloftes vergeet wat Hy aan hulle gemaak het nie.

55. Hy het sy goedheid oor hulle uitgestort, presies net soos Hy aan Abraham belowe het - aan hom en aan sy hele nageslag. Ja, God se beloftes is vir altyd waar.”

56. Maria het amper drie maande by Elisabet gebly. Daarna het sy na haar huis toe teruggegaan.

57. Kort daarna het Elisabet ’n seun gehad.

58. Haar vriende en familie was baie bly saam met haar. “Die Here was baie goed vir haar,” het hulle almal gesê.

59. Agt dae na sy geboorte het Sagaria en Elisabet hulle kindjie laat besny. Die res van die familie wou hom Sagaria noem.

60. Maar Elisabet het hulle gekeer. “Nee, wag! Sy naam moet Johannes wees.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 1