Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 17:6-12 Die Boodskap (DB)

6. “Ek het vir die mense duidelik kom uitspel wie U is. Ek praat van die mense wat eintlik nog van altyd af u s’n was. U het hulle nou vir My gegee om na te kyk. Hulle is baie ernstig oor wat U vir hulle wil sê. Hulle besef ook baie goed dat U en Ek in ’n span saamwerk en Ek weet wat U alles vir My gegee het.

7. Toe Ek met hulle praat, het hulle dadelik geweet dat dit u boodskap is wat hulle hoor.

8. Daarom het hulle dit aangegryp. Daar was toe geen twyfel meer by hulle dat Ek van U af kom nie. Hulle weet dat U My na hulle toe gestuur het.”

9. “Ek bid vir hulle! Ek bid vir elkeen wat U vir My gegee het om na te kyk. Hulle behoort immers aan U. Oor hulle wil Ek nou met U praat en nie oor al die ander mense in die wêreld nie. Ons is mos soos een groot familie.

10. Hulle lê My net so na aan die hart as vir U en U gee net soveel om vir hulle as Ek. Hulle sal vir mense vertel hoe belangrik Ek is.

11. Ek gaan mos nou nie meer langer fisiek hier op die aarde bly nie. Ek is op pad terug na U toe, maar hulle gaan fisiek hier op die aarde agterbly. Vader, daar is niemand soos U nie.

12. Daarom vra Ek U, kyk asseblief na hierdie mense wat Ek tot nou toe versorg het. U het die gesag om hulle te beskerm. Die gevolg sal wees dat hulle soos een man sal saamwerk, net soos U en Ek saamwerk. Toe Ek by hulle was, het Ek mooi gekyk na die mense wat U aan My gegee het om na te kyk. Ek het hulle soos goud opgepas. Nie een van hulle het die spoor byster geraak nie. (Ek praat natuurlik nie van Judas wat hand om die lyf met Satan loop nie. Dat hy sou afdwaal, het die Skrif lankal gesê.)

Lees volledige hoofstuk Johannes 17