Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 12:35-45 Die Boodskap (DB)

35. Jesus antwoord toe met ’n beeld: “Dit is nog nie donker nie. Die Lig gaan nog ’n rukkie hier wees: gebruik die lig om te doen wat jy moet doen. Netnou kom die donker en dan is dit te laat. As dit eers donker is, verdwaal jy maklik en dít is ’n gemors.

36. Die Lig skyn nou oor julle. Maak oop julle oë en aanvaar die Lig. Dan sal julle altyd by die Lig wees en werklik sinvol kan leef.” Daarna is Jesus daar weg sonder dat die mense presies geweet het waarheen Hy is.

37-38. Wat Jesaja soveel jare terug gesê het, is met Jesus weer waar bewys. Die mense wou Jesus nie aanvaar nie, al het Hy al die wonderlike dinge gedoen. Jesaja het nie verniet gesê nie:“Here, wie het hulle aan ons woorde gesteur? Wie het raakgesien wat die Here regtig kan doen?”

39. Hulle wou nie glo nie; nou kan hulle nie glo nie. Dit rym met wat Jesaja gesê het:

40. “God het hulle soos blinde mense gemaak. Hulle het niks meer vir God omgegee nie. Ja-nee, hulle kon God nie meer raaksien nie en het nie vir Hom omgegee nie. Die kans dat hulle na God toe sal kom om sy kinders te word is nul.”

41. Jesaja het hierdie dinge oor Christus gesê omdat hy besef het hoe belangrik Christus is.

42. Baie mense, selfs van die Joodse leiers, was saam met Jesaja oortuig van hoe belangrik Jesus is. Stilletjies, op hulle eie, het hulle Jesus aanvaar. Hulle wou dit egter vir niemand sê nie, want hulle was bang. Hulle het koue voete gekry as hulle daaraan gedink het dat die Jode hulle uit hulle byeenkomste sou wegjaag en hulle sou verbied om weer daar te kom as hulle iets goeds van Jesus sou sê.

43. Hulle probleem was dat hulle harder probeer het om mense te beïndruk as vir God.

44. Jesus praat toe hard sodat almal Hom kon hoor: “Hy wat My gelowig aanvaar, aanvaar nie net vir My nie; hy aanvaar ook vir God wat My gestuur het.

45. Hy wat werklik begryp wie Ek is, begryp ook wie My gestuur het.

Lees volledige hoofstuk Johannes 12