Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 12:24-39 Die Boodskap (DB)

24. Laat Ek dit vir julle so verduidelik: ’n koringsaadjie wat jy nooit saai nie, sal maar net een saadjie bly. Maar as jy dit in die grond saai, verdwyn die saadjie ’n ruk lank. Dit is of dit doodgaan. Maar dan kom daar ’n plantjie op en dit dra honderde koringkorrels.

25. ’n Selfsugtige mens wat niks vir ander voel nie omdat hy net heeltyd aan homself dink, is op die verloorpad. Hy gaan uiteindelik niks oorhou nie, nie eens sy eie lewe nie. “Wie egter ander in die lewe eerste stel en bereid is om opofferings te maak, al kos dit wat, leef soos God dit wil hê. Hulle sal alles wen, omdat God sal sorg dat hulle geestelik vir altyd sal leef.

26. “Iemand wat My wil dien, moet dus bereid wees om my voorbeeld te volg. Hy moet in enige situasie presies doen wat Ek sou doen; ja, in hierdie lewe moet hy aan die werk wees op plekke waar Ek graag sou wou werk. God self sal iemand wat dít doen, prys.

27. “Op die oomblik is my gemoed beswaard. Ek weet nie mooi wat om te bid nie. Sal Ek bid: ‘Vader, maak ’n ander plan sodat Ek nie hoef te sterf nie’? Dit kan Ek tog nie bid nie! Ek het dan juis gekom om te sterf en op te staan. Ek kan nou net een gebed bid:

28. ‘Vader, doen wat nodig is sodat mense kan sien hoe groot en belangrik U is!’”

29. Skielik praat Iemand uit die hemel: “Ek het al baie vir mense gewys hoe groot en belangrik Ek is. Maar Ek gaan dit weer ’n keer doen.”“Hoor die donderweer!” het party gesê.“Nee, man, dit was ’n engel wat met hom gepraat het,” kom dit weer van ander.

30. “Julle is reg. Iemand het gepraat,” sê Jesus. “Maar Hy het eintlik nie met My gepraat nie, maar met julle.

31. “Die tyd het gekom dat die mense gaan hoor wie reg en wie verkeerd is. Party mense dink mos die duiwel swaai die septer in die wêreld. Wel, Ek het vir julle nuus. Sy mag is gebreek. Hy het nie meer ’n sê in hierdie wêreld nie. By My gaan julle ware mag sien.

32. Ek gaan opgelig word van die aarde af.

33. (Hier het Hy sy kruis in gedagte gehad.) Soos ’n magneet gaan Ek dan mense na My toe aantrek, weg van die sonde van die wêreld af.”

34. “Nou is ons deurmekaar!” sê die mense toe. “Sover ons weet, sê die Skrif dat as die Redder eers eenmaal hier is, Hy altyd hier sal bly. Nou sê jy dat die Seun aan ’n kruis gaan hang. Waarvan praat jy? Wie is hierdie ‘Seun’?”

35. Jesus antwoord toe met ’n beeld: “Dit is nog nie donker nie. Die Lig gaan nog ’n rukkie hier wees: gebruik die lig om te doen wat jy moet doen. Netnou kom die donker en dan is dit te laat. As dit eers donker is, verdwaal jy maklik en dít is ’n gemors.

36. Die Lig skyn nou oor julle. Maak oop julle oë en aanvaar die Lig. Dan sal julle altyd by die Lig wees en werklik sinvol kan leef.” Daarna is Jesus daar weg sonder dat die mense presies geweet het waarheen Hy is.

37-38. Wat Jesaja soveel jare terug gesê het, is met Jesus weer waar bewys. Die mense wou Jesus nie aanvaar nie, al het Hy al die wonderlike dinge gedoen. Jesaja het nie verniet gesê nie:“Here, wie het hulle aan ons woorde gesteur? Wie het raakgesien wat die Here regtig kan doen?”

39. Hulle wou nie glo nie; nou kan hulle nie glo nie. Dit rym met wat Jesaja gesê het:

Lees volledige hoofstuk Johannes 12