Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 11:9-25 Die Boodskap (DB)

9. Jesus maak hulle toe stil. “Daar is twaalf ure lig per dag. En dit moet ’n mens gebruik. Terwyl dit lig is, kan jy sien wat jy doen. Jy sal nie oor goed loop en val of rondstrompel nie. Maar in die nag is dit heeltemal anders.

10. As dit donker is, val jy oor alles. In die donker kan jy mos nie sien wat jy doen nie. Dus: terwyl die kans daar is, moet ’n mens doen wat gedoen moet word.

11. Nou ja, om terug te kom na ons vriend Lasarus toe,” gaan Jesus verder, “hy slaap. Ek moet hom gaan wakker maak.”

12-13. Dit was maar net ’n ander manier om te sê dat Lasarus dood was. Sy dissipels het gedink Jesus bedoel dat Lasarus regtig slaap. “Los vir Lasarus, Here. As hy slaap, kan hy mos self wakker word,” stel hulle voor.

14. Toe praat Jesus sommer reguit met hulle: “Lasarus is nie meer met ons nie, hy’s dood. Maar dit is nie slegte nuus nie.

15. Ek is bly Ek was nie daar toe dit gebeur het nie. En weet julle hoekom? As ons nou gaan, gaan dit vir julle baie beteken. Kom, laat ons loop.”

16. Tomas, vir wie party mense “Tweeling” genoem het, sê toe vir die ander dissipels: “Kom, laat ons maar saam met Hom in die kake van die dood instap.”

17-18. Toe Jesus-hulle in Betanië aankom, hoor Hy dat Lasarus al vier dae tevore begrawe is.

19. Daar was nog ’n klomp mense by Marta en Maria se huis om hulle te troos.

20. Toe die mense vir Marta kom sê dat Jesus op pad is, is sy dadelik uit na Hom toe. Maria het in die huis bly sit.

21. “Here,” begin Marta sommer dadelik toe sy Hom sien. “Waar was U al die tyd? As U betyds hier was, kon U nog my broer gesond gemaak het. Dan het hy nou nog geleef.

22. Tog het ek al die tyd aan een ding bly vashou: ek weet God sal na U luister as U Hom iets vra.”

23. Jesus stel haar toe gerus: “Moenie bekommerd wees nie. Jou broer sal weer lewendig word.”

24. “Ek weet dit,” sê Marta. “Met die finale oordeel sal God ons almal mos weer lewendig maak.”

25. “Dit is nie wat Ek bedoel nie,” sê Jesus. “Ek is die Een wat mense laat opstaan uit die dood en aan hulle die lewe gee wat nooit ophou nie. “As iemand waarlik ’n Christen is, kan hy mos nooit geestelik doodgaan nie. Al sterf sy liggaam, het hy nog die ewige lewe.

Lees volledige hoofstuk Johannes 11