Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 2:9-23 Die Boodskap (DB)

9. As julle egter party mense begin voortrek en beter behandel as ander omdat hulle menslik gesproke belangrik lyk, doen julle nie wat God van julle vra nie. Volgens die wet van die Koning is julle dan niks beter as tronkvoëls wat nie wil luister na sy wet nie.

10. Dit help nie dat ’n mens die meeste van God se wette presies hou, maar jou aan een van hulle nie steur nie. Al is dit net daardie één wat jy nie wil doen nie, is dit so goed of jy die rug draai vir alles wat God van jou vra.

11. Dieselfde God wat gesê het: “Moenie ’n verhouding met iemand anders buite jou huwelik aangaan nie,” het ook gesê: “Moenie iemand doodmaak nie.” Al bly jy hoe getrou aan jou huweliksmaat, maar jy maak iemand dood, het jy God se wet gebreek. Dan is jy ’n wetbreker.

12. Praat en tree op soos mense wat baie ernstig is om presies te doen wat God van hulle vra. Julle weet mos dat God julle dade by die finale oordeel volgens sy wet gaan toets. Die wet help ’n mens om die grypende kloue van die kwaad te systap.

13. Iemand wat ander mense sonder werklike liefde en gevoel behandel, sal dieselfde liefdeloosheid en gevoelloosheid by die finale oordeel ervaar. As iemand egter liefdevol en sensitief teenoor ander optree, beteken dit dat daar by die oordeel niks teen so ’n persoon gesê sal word nie.

14. Liewe broers en susters, dink julle dit gaan help as iemand oral rondvertel dat hy glo, maar glad nie soos ’n gelowige optree nie? Die blote gepratery oor geloof is tog nie genoeg om so ’n mens se saak met God reg te maak nie. Luister na die volgende storie en dan sal julle verstaan wat ek bedoel.

15. Sê nou daar is in die gemeente ’n mede-Christen, man of vrou, wat nie klere het om aan te trek of kos het om te eet nie.

16. Een van julle sê vir die arme man of vrou: “Ek sien dit gaan sleg met jou, maar ek wens regtig dat dit sommer gou beter sal gaan. Ek hoop jy kry iets om aan te trek en kos om te eet.” Nadat hy dit gesê het, draai hy net daar om en doen nie ’n steek verder om te help met wat die arme man of vrou nodig het nie. Wat het al hierdie woorde nou miskien gehelp? Net mooi niks nie.

17. So is dit ook met jou verhouding met God. Om te sê jy is vriende met God, maar jy doen niks vir Hom nie, sê eintlik dat die vriendskap tussen jou en God morsdood is.

18. Iemand sou kon sê: “Jy het ’n geloofsverhouding met God, maar ek doen weer wat God vra.” Maar sê dit presies dieselfde? Dink daaroor na. Kan jy vir my bewys dat jy in die regte verhouding met God staan sonder dat jy enigiets vir Hom doen? Ek twyfel. Maar, ek is in alle geval seker dat ek vir jou sal kan bewys dat met alles wat ek vir God doen, ek in ’n goeie verhouding met Hom staan.

19. Jy is oortuig daarvan dat daar net een God is. Dit is ook so. Maar dié soort geloof red ’n mens nie noodwendig nie - die duiwels is ook oortuig dat God bestaan en al wat dit aan hulle doen, is dat hulle aan die bewe raak wanneer hulle dit besef.

20. Ai, hoe onnosel is die persoon wat nie wil besef dat geloof in God sonder dat daar ook vir Hom geleef word, nutteloos is nie.

21. Neem nou maar vir Abraham, ons geestelike vader. Hy het bo alle twyfel bewys dat sy verhouding met God reg is toe hy sy seun Isak op die altaar wou offer soos God van hom gevra het. Hy het nie net gepraat nie, maar gedoen ook.

22. By hom kan ons mooi sien hoe die verhouding met God en die gehoorsame lewe vir God eintlik saamwerk. Dit is soos twee kante van dieselfde munt. Eers as iemand vir God lewe, is sy verhouding met God soos dit behoort te wees.

23. Die Bybel sê mos: “Abraham het in God geglo. Juis daarom het God besluit dat Abraham se verhouding met Hom reg is.” Die bewys daarvan was toe Abraham vir Isak gaan offer het. Hy is van toe af ’n vriend van God genoem.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 2