Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 5:7-14 Die Boodskap (DB)

7. Toe Jesus destyds op aarde was, het Hy God baie mooi gevra om Hom uit die dood te red. Hy het baie ernstig met trane in sy oë daarvoor gebid, omdat Hy geweet het dat God dit kan doen. En God het dit gedoen omdat Jesus Homself met soveel oortuiging in God se hand geplaas en Hom gehoorsaam het.

8. Al was Jesus sy Seun, het Hy ervaar wat dit beteken om regtig gehoorsaam te wees deurdat Hy na God bly luister het, al het dit met Hom hoe swaar gegaan.

9. Nadat Hy gewys het dat Hy aan God en net aan Hom gehoorsaam is en nooit iets doen waarvan God nie hou nie, kon Hy die ewige lewe uitdeel aan almal wat na Hom wou luister.

10. God het Hom dan ook aangestel as ’n Hoëpriester, net soos Melgisedek ’n hoëpriester was.

11. Ek kan nog baie hieroor sê, maar dit is vir my moeilik om dit behoorlik by julle tuis te bring, omdat julle nie eintlik wil luister nie.

12. Om die waarheid te sê, behoort julle eintlik self al mense te gewees het wat ander van die dieper dinge van die godsdiens kon vertel. Maar kyk net na julle: ’n mens moet julle weer van die begin af al die basiese dinge oor God en sy boodskap leer.

13. Op geestelike gebied is julle soos regte babatjies wat net melk drink en geen vaste kos kan eet nie. En iemand wat dit doen, is nog ’n babatjie in die geloof. Hy weet nog nie eens mooi wat die verskil tussen reg en verkeerd is nie.

14. Vaste kos is bedoel vir grootmense, ook op geestelike vlak. Hulle het al in die lewe geleer om te weet wat goed en wat sleg is.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 5